Paulus nooi ons in 2 Korintiërs 6:13 (The Message): “Open up your lives. Live openly and expansively!” Vir die volgende 14 dae nooi ons jou om saam met ons stil te staan by wat ons van God ontvang het en hoe ons met dit wat ons het, vrygewig teenoor ander kan leef.
Elke dag is daar ’n refleksievraag en ’n eenvoudige geloofspraktyk wat ons help om God se goedheid in ons gewone lewe raak te sien en nie net hoorders van die Woord te wees nie, maar ook daders. Ons wil leer om dankbaar te ontvang, tevrede te wees met wat ons het en met vreugde te deel.
Die reis eindig op Dankbaarheidsondag, waar ons saam dankie sê vir die Here se goedheid en ook ons dankbaarheid uitdruk deur ons dankoffer te bring.
Ons nooi jou om die volgende 14 dae saam met ons te reis.
________________________________________
Wat is ‘n Dankoffer?
Dankbaarheid is meer as iets wat ons sê.
Dit is ook iets wat ons leef.
Oor die afgelope paar weke is ons genooi om meer bewustelik raak te sien wat ons ontvang het, om met oop hande te leef en te ontdek hoe ons deur eenvoudige dade van liefde en vrygewigheid ’n verskil in ander mense se lewens kan maak.
In 1 Timoteus 6:18 moedig Paulus ons aan om ryk te wees in goeie dade, vrygewig te wees en bereid te wees om met ander te deel.
Dit herinner ons dat vrygewigheid nie in die eerste plek gaan oor hoeveel ons het nie, maar oor wat ons bereid is om te doen met dit wat aan ons toevertrou is. Wanneer ons terugkyk op die afgelope jaar, is daar soveel waarvoor ons dankbaar is. Ons dink aan mense wat nuwe hoop gevind het, verhoudings wat herstel is, mense wat Jesus op ’n nuwe manier leer ken het en lewens wat deur die liefde en goedheid van God aangeraak is.
Ons is dankbaar dat ons as geloofsgemeenskap deel mag wees van hierdie verhale. Ons jaarlikse dankoffer is ’n uitnodiging om ons dankbaarheid ook deur ons vrygewigheid uit te druk.
Dit is ’n geleentheid om, bo en behalwe ons gewone bydraes, ’n spesiale dankoffer te gee waarmee ons saam kan voortbou aan dit wat die Here deur ons doen. Deur ons gesamentlike vrygewigheid kan ons voortgaan om ruimte te maak waar mense Jesus kan ontmoet, in hulle geloof gevorm kan word en waar hoop op praktiese maniere sigbaar word.
Ons nooi jou uit om biddend te oorweeg wat jy hierdie jaar as dankoffer wil gee. Nie uit verpligting of onder druk nie, maar met die vryheid en vreugde waarvan Paulus in 2 Korintiërs 9:7 skryf:
“God het die blymoedige gewer lief.”
Mag ons dankbaarheid hierdie jaar meer wees as woorde. Mag dit sigbaar word in hoe ons leef, liefhet en gee.
________________________________________
Ons sluit die reis op DankbaarheidSondag af. Dit is ’n geleentheid om met vreugde en dankbaarheid op God se goedheid te reageer, ook deur ons dankoffer.
Dienste op 22 Oktober
- 08:30 – Afrikaanse dankbaarheidsdiens
- 10:00 – Engelse dankbaarheidsdiens
- 17:00 – Celebration Diens (Klipkerk)