DIEPER

Ontwikkel ’n regula – ‘n Regula is ’n ritme van daaglikse stiltetyd, weeklikse sabbat en jaarlikse retreat.

NADER

Vind jou spasie. Jou spasie is ’n sekere soort interaksie in ’n verhouding wat jy nou nodig het om vorentoe te beweeg met jou lewe.

VERDER

Vervul jou roeping. As jy die roepstem hoor en reageer, begin jy om uit te gee in jou werk (wat jy doen vir ’n lewe), jou bediening (waar jy jou gawes gebruik om in die koninkryk te bou) en lewensrolle (as man/vrou, pa/ma, landsburger ens.) en word jy ’n getuie vir Hom.

Verbeel jouself:
Ons is saam op ‘n boot. Die ritme daarvan is vir jou bekend – die son wat blink op die water ‘n vriendelike verwelkoming; die klotsende water ‘n bekende refrein.

Die verskrikking van ‘n tsoenami. Onverwags. Pandemie.
‘n Nuwe bekende het by ons aangesluit.
Ons deel nou ook ‘n wond met die naam, ‘verlies’.
Van lewens. Verhoudings. Finansies. Funksionering.
Maar daar is iets wat onaangetas bly. Iets wat hierdie verskrikking nie van ons kan steel nie:
Ons het oorleef.

Maar ‘n boot is nie gemaak om in die hawe te bly nie. Die tyd het aangebreek vir ons om weer op die water uit te gaan, maar asof vir die eerste keer.

Nuwe realiteite is hier, in-persoon en aanlyn, wat reeds ‘n klein bietjie bekend begin voel. Al is niks meer dieselfde nie.
Die boot lyk anders. Die see ook.

Maar ons seile is gespan. Ons wag vir die wind.
Dit wat ons beplan, waaroor ons droom, het die wind nodig om te ontwaak. Die Gees wat ons weet-dat-ons-weet bestaan, wie se fluistering nog nooit opgehou het nie, dié Gees moet inspireer, moet seën.

Hierdie boot is ons verhoudings. Ons verhouding met Hom (ek – U), ons verhouding met mekaar (ek – Jy), ons verhouding met ons roeping (ek – dit).

Ons genesing lê in verhouding.

‘n Tweede pandemie het ons getref – geestesgesondheid (mental health). Hier is die uitnodiging vir die jaar: om weer vir die eerste keer, deur verhouding te groei en genesing te ontvang.

 

Dieper – in jou verhouding met die Here te gaan.
Nader – in jou verhouding met baie ander wat die besluit geneem het. ‘n Verdere tree te neem om nader aan mekaar te beweeg en jou lewe in diep met ander te deel en geestelike gesprekke te voer.
Verder – in jou lewe. Deur te ontdek wie jy is, op watter plek jy jouself bevind, watter behoeftes daar is en wat jy kan gee of doen.
Ons droom op die reis van genesing is om

  • een-tot-een jou lewe te deel en in verskillende groepe en geleenthede jou lewe deel om genees te kan word.
  • Saam wil ons hande vat om die woord te verkondig deur Kyknet.
  • Ons wil die hongersnood aanspreek en agt duisend (8000) etes ‘n dag uit deel.
  • Ons wil die Engelse bediening waarmee ons begin het, laat groei.

Dankie vir almal wat werk, gee, bid dat ons hierdie lewe saam kan hê. Dankie dat ons kan groei in ons verhouding met God en dat ons kan help om Sy koninkryk te bou!
Dankie dat julle saam met ons gaan uitvaar.
Amen