Kort die kerk 'n 'reboot'?

Kort die kerk ’n 'reboot'?
Dec 02 2008 09:16:18:530PM  - (SA)   ) njackson@beeld.com

Die Christendom van die 21ste eeu gaan dalk meer soos appels en minder soos lemoene lyk. Dis één van die boodskappe wat Neels Jackson op 'n konferensie van kreatiewe denkers oor kerkwees gehoor het oor die Christelike pad vorentoe. Dink aan ’n situasie waar ’n klomp meestersjefs bymekaar kom. Elkeen sit ’n paar bestanddele op die tafel en hulle gesels diep oor die geregte wat hulle in gedagte het, maar wanneer hulle klaar is, is dit steeds nie duidelik presies wat die resep is nie.Iets van hierdie beeld beskryf die Reformasiekonferensie wat die e-kerk onlangs in Duitsland gereël het.Die vraag was duidelik: Wat moet Christene vandag doen om “die wêreld om te keer” (soos een vertaling van Handelinge 17 sê die eerste gelowiges gedoen het)?Die feit dat ’n deel van die konferensie in Wittenberg gehou is, nogal op die herdenking van die dag waarop die kerkhervormer Martin Luther 491 jaar tevore sy 95 stellinge teen die kerkdeur vasgespyker het, het aangedui dat daar oor kerkhervorming gepraat sou word.Daarby is die deelnemers van oor die wêreld gekies omdat hulle almal op die een of ander manier betrokke is by tekens van vernuwing wat die laaste jare in die Christelike wêreld te bespeur is.Uiteindelik het prof. Leonard Sweet van die Drew-universiteit in New Jersey in sy slotwoord gesê een ding het vir hom duidelik geword: God is besig met iets anders, maar nie met kerkhervorming nie.Die fokus het nooit op die kerk geval nie, en veral nie op sy strukture nie. Dit het gegaan oor die wêreld en die boodskap van Jesus Christus vir die wêreld.’n Nuwe fokusAs ’n mens een deurlopende tema moet uitsonder, een goue draad wat deur die konferensie geloop het, was dit die klem daarop om regte dissipels van Jesus te word.Wat beteken dit?Alan Hirsch, skrywer van teologiese boeke soos The shaping of things to come, het ’n gedagte van verskeie deelnemers soos volg verwoord: Die evangeliese Christene slaan dikwels hul tente op om die kruisiging, opstanding, hemelvaart en wederkoms van Jesus. Daarmee verloor hulle egter uit die oog hoe Jesus as mens geleef het.Hirsch is ’n Suid-Afrikaans gebore Jood wat later ’n Christen geword het, in Australië gewoon het en nou in die VSA as aktivis vir ’n nuwe sendingbenadering werk.Stuart Murray, Britse skrywer van boeke soos The church after Christendom, het gesê Christene moet nie net vra waarom Jesus gesterf het nie, maar waarom hy doodgemaak is.Uit dié soort opmerkings van Hirsch en Murray spruit ’n nuwe fokus vir hoe Christene moet leef.Soos Jesus moet hulle besorg wees oor die magteloses, die randfigure in die samelewing. Die armes, diegene wat swaarkry.Soos Jesus moet hulle teen die heersende kultuur van hul tyd ingaan. Hulle moet ’n duidelike alternatief daarstel en daardie alternatief uitleef.In die huidige samelewing beteken dit dat Christene teen die verbruikerskultuur in moet leef; dat hulle ’n alternatiewe leefstyl vir die wêreld moet voorhou wat mense na hulle sal lok soos wat die vroeë Christene ongelowiges gelok het.Dit vra ’n groot skuif van waar baie kerklike instellings vandag leef. Dis ’n skuif met verskeie uiteenlopende implikasies.Die een daarvan is dat veral die Westerse Protestantse kerke hul “linkerbreingodsdiens” sal moet verruim om vir ’n “heelbreingodsdiens” plek te maak.Sweet gebruik die beeld van lemoene en appels om dit te beskryf.In die Westerse samelewing, en daarmee ook in Westerse kerke, is mense lank geleer om alles verstandelik te ontleed, om dit in stukkies te verdeel (soos ’n lemoen se skyfies) en die stukkies dan afsonderlik te hanteer. In kerke het dit gelei tot ’n eensydige klem op dogma, met gevoel (veral meegevoel met ander mense), aanvoeling en doen wat dikwels agterweë gebly het.Daarom dat Ron Martoia, Amerikaanse skrywer van boeke soos Morph! en Static, kon kla dat kerke hul mense voer met Bybelstudies en ander toerustingskursusse, maar dat dít alleen nie help dat Christene regtig anders begin leef nie. Die teendeel is, volgens Sweet se beeld, die appel-opsie. Daarvolgens word die lewe nie in skyfies opgedeel nie, maar vorm al die faktore soos emosies, dade én denke een geheel – soos ’n appel. In dié trant is gevra dat die gesig van die Christendom vermenslik moet word. Christene moet meer liefdevol en minder veroordelend wees.Volgens Sweet is die beste opsie om dié menslikheid te herwin, om soos Jesus te word.Die grootste kloofNog ’n implikasie van die groot skuif wat nodig is, is dat Christelike leierskap anders moet begin lyk.Die Amerikaanse navorser George Barna sê uit sy konteks dat die era van vroeëre leiers soos Billy Graham en die huidige geslag leiers soos biskop T.D. Jakes en Joyce Meyer eintlik verby is.Die nuwe soort leiers is nie mense wat vir die groot verhoog speel nie. Hulle fokus liewer plaaslik en maak tyd om in individue se lewens te belê.Hulle is nie soseer supersterre nie, maar spanspelers.En die heel belangrikste: Hulle vra mense nie om hulle te volg nie, maar om Jesus te volg.So ’n nuwe soort leierskap vra ook ’n nuwe soort lidmaat.Chris Seay, Amerikaanse skrywer van boeke soos The gospel according to Tony Soprano, het ’n sterk standpunt hieroor ingeneem.Die grootste kloof vandag in kerke is volgens hom nie dié tussen ryk en arm of dié tussen rasse nie, maar tussen beroepskerklui en gewone lidmate.Dié kloof, sê hy, dra die ken-tekens van die verbruikerskultuur waaraan die kerk gelykvormig geword het.Die dominees is beroepskerklui wat met hul preke en eredienste vir die verbruikers ’n produk lewer. Al wat laasgenoemde doen, is om die produk te verbruik. Van ’n aktiewe uitleef van die Christelike lewenstyl kom min tereg.Wat Seay bepleit, is dat die onderskeid tussen ampsdraers en lidmate (clergy and laity) heeltemal opgehef word.“Óf almal moet georden word, óf niemand moet georden word nie,” meen hy.Die boodskap is dat lidmate moet besef dit is net soveel húl taak om die boodskap van Jesus die wêreld in te leef as wat dit die dominee s’n is.As Christene dit kan regkry om die leër van gelowiges oor die wêreld in die stryd teen armoede te mobiliseer, sê Seay, kán hulle armoede uitwis.Twee donkiesMaar wat beteken dit alles vir kerklike strukture?Hieroor het die menings uiteengeloop. Barna het gepraat van alternatiewe modelle van kerkwees wat na vore kom.Past. Mark Batterson van Washington het vertel hoe hul bediening grondvat in ’n rolprentteater by ’n besige stasie, in ’n koffiewinkel en in die kuberruim. Hy het gesê daar moet wyses van kerk wees waaraan niemand nog gedink het nie.Maar wat gemaak met bestaande kerke? Moet hulle hervorm word? Of moet daar liewer van voor af begin word met nuwe kerke?Sweet verkies ’n beeld uit die rekenaar-wêreld. Hy meen die kerk moet ge-r eboot word, as’t ware van voor af aangeskakel word. Hy het dit egter nie in praktiese terme verduidelik nie.Wolfgang Simson, Duitse navorser en teoloog, gebruik die beeld van Jesus wat volgens die evangelie van Matteus twee donkies laat haal vir sy intog in Jerusalem: ’n merrie en haar vul waarop niemand nog gery het nie.Hy het die “ou donkie” vergelyk met die bestaande kerke en die “nuwe donkie” met die nuwe Christelike bewegings wat ontstaan in lande soos Indië en Viëtnam.Simson, wat in Indië gewoon het, sê tienduisende mense kom daar tot bekering. Hulle funksioneer in huiskerke, dikwels onder leiding van ongeletterde vroue. Institusionele kerke is dikwels nie eens van hulle bewus nie.Dr. Nelus Niemandt, dosent in sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria, het vertel van ’n soortgelyke verskynsel in Europa. Daar is plekke waar daar op Sondae meer mense bymekaar is in informele immigrantekerke as in die tradisionele kerke van die gebied.Hoewel Simson se hart duidelik by die “nuwe donkie” lê en hy min geduld met die “ou donkie” het, was daar nie ’n gevoel dat die “ou donkie”, oftewel bestaande kerke, afgeskryf moet word nie.Terselfdertyd was daar geen sterk gevoel oor kerklike strukture nie. Die gevoel was dat die vorm van die kerk nie so belangrik is as die hart van die kerk nie.Of soos Barna gesê het: Dit gaan nie daaroor om geboue of instellings of bewegings te bou nie, maar om mense op te bou.Dr. Stephan Joubert van die e-kerk het gesê mense moenie probeer om kerke te plant nie. Hulle moet Jesus in mense se lewens plant. Daardie mense sal gaan en Jesus weer in ander se lewens plant.Tyd is nou rypHoe die vernuwing in die kerke gaan uitspeel, sal die tyd moet leer.Martoia meen dat die kerk in die geskiedenis so elke 500 jaar as’t ware moes huis skoonmaak en rommelverkoping hou om van al die ou goed ontslae te raak.Die laaste keer was met die kerkhervorming van mense soos Luther en Calvyn, maar die tyd daarvoor het nou weer aangebreek.Mense soos Sweet en Barna meen God het reeds begin om iets nuuts onder sy mense te doen.Barna sê kerklui hoef nie die vernuwing aan die gang te sit, die leiers daarvan te word of hulle oor die toekoms daarvan te bekommer nie.Wat hulle wel moet doen, is om uit te vind waar dit gebeur, om dit te verstaan en te vier, om daarby aan te sluit en dit uit te brei.