Manjifieke Mossie 2009


Manjifieke Mossie

 

Soos telkemale vantevore het Mosaïekers bymekaargekom. Soos elke jaar – vir hierdie één geleentheid – het Mosaïekers hul beste voetjie voorgesit. Dasse en pakke is afgestof, volledige uitrustings is beplan, en hare is gedoen (en in sommige gevalle mooi gekam). Soos vantevore het hulle op die Piazza bymekaargekom, gesels, gekuier, gegrap en aan die grênd uitrustings gevroetel. Silwer Mossie was weer op ons en soos gewoonlik was die dankie-sê plegtigheid ‘n uitsien-na-moet-soontoe-gaan-so-teken-dit-aan-op-jou-kalender-en-kry-jou-kaartjies-by-die-i-desk-geleentheid.  

 

 Maar iets was anders. Voel daaroor soos jy wil, verandering is so deel van ons as toonnaels. Nie almal hou daarvan om daaroor te praat nie, maar kom die dag wat jy besef dit was nodig, is die dankbaarheid in oorvloed. Vanjaar het die Silwer Mossie ook verander en van wat die uwe kon aflei, was die Mossie-makeover ‘n reuse sukses. Nie eens donderweer en storms kon die goeie gees demp nie.  

 

Medewerkers,  personeel en gaste is getrakteer op ‘n wonderlike aandjie saam met bekende TV-persoonlikheid en sanger, Coenie de Villiers. Soos dit ‘n vermaaklikheidster betaam, het hy binne minute die gehoor uit sy hand laat eet. Veral as hy die klawers met sy meer deurleefde treffers geslaan het, het die gehoor gejuig. Kom een van my  jonger vriende na die tyd na my toe en prewel binnensmonds: “Kan jy nou meer, die ou-toppie is funny en cool.” Ek merk toe ook so in die verbygaan op hoe die oueres van dae, met die wysheid van jare droog opmerk: “Hy mag maar…altyd ‘n plesier…het jy gesien hoe bewe daai klavier.”    

Ander hoogtepunte was die mooi video met hoogtepunte van die jaar, op ‘n lied wat ons herinner dat daar nog baie te doen is in hierdie stad van ons. Ook die personeel se bydrae - ‘n video met ‘n collage pragtige teksverse wat deur elke personeellid voorgedra is. Die kuier voor en na die tyd is ook opgekikker met wonderik jazz-klanke van ‘n naamlose driemanskap. Toe ek hulle vra wie hulle is, haal hulle die skouers op, kyk hulle oor-en-weer na mekaar en besluit hulle is vir die aand die Tshepo Monareng-ensemble.    

 

Silwer Mossie is egter ook ‘n geleentheid om terug te kyk na die jaar wat was en bestek te neem van dit wat bereik is, asook dit wat nie bereik is nie. Johan Geyser het openlik gepraat oor die uitdagings wat die gemeente die afgelope jaar beleef het. Hoewel dit by tye sleg gegaan het, het dit ook goed gegaan en altwee aspekte is verweef in sy terugblik op 2009.  Geyser het met groot entoesiasme gepraat oor wat voorlê in 2010. Van die dinge om na uit te sien, is ‘n tweede oggenddiens, wat identies sal wees aan die eerste oggenddiens, maar sal verskil van die aanddiens. Laasgenoemde sal voortaan meer op die Nuwe Generasie fokus. Mez’o sal ook ‘n gedaanteverwisseling ondergaan om jongmense beter toe te rus. Dan sal die gemeente meer te sien kry van Trevor Hudson en van Missional Expressions. Daar sal nuwe aspekte by Wholeness wees, asook ‘n nuwe baadjie vir die kuns-span, uitbreidings by die akademie, vordering aan die Origins-projek en dies meer.    

 

Oor die algemeen het Mossie, myns insiens daarin geslaag om nie net die afgelope jaar te vier nie, maar ook afwagting te skep vir die nuwe jaar. Die moeilike ding is net, hoe gaan die gemeente dit regkry om 2010 ook op so ‘n hoogtepunt af te sluit.    

Geskyf deur Jako Krige (November 2009)

Preekreekse

Wat lê voor

Nuus