Mosaïek het hulle huidige gemeentetuiste wat in Fairland geleë is, op 13 Maart 2004 betreë, en amptelik op 9 April 2004 ingehuldig.
Die fasiliteite bestaan uit 'n aantal geboue wat 'n sentrale Piazza met 'n fontein omring.
Soos met die naam waarna die gemeente vernoem is, is daar verskeie kunswerke dwarsoor die fasiliteite sigbaar: van mosaïek-teëlwerk in die vloere, loodglasvensters wat die Klipkerk versier, 'n standbeeld deur Anton Smit, verskeie kunsuitstallings wat dwarsdeur die fasiliteite sigbaar is; is die argitektuur van elke gebou diep deurdag om te verteenwoordig wat ons hoop daardie gebou se skeppingsdoel sal wees.
Met die hoop om 'n dorpsgevoel te skep, voeg elke gebou 'n unieke dimensie by tot die belewenis wat uniek Mosaïek is...
- Die Klipkerk. Die intieme ruimte, wat in 'n antieke styl opgerig is, skep ook die hoeksteen van 'n spiritualiteit wat afsondering, bepeinsing en antieke geloofstradisies aanmoedig. Die gebou is 24-uur per dag beskikbaar vir afsondering, gebed en nagmaal. 'n Klein kruis wat sentraal in die gebou teen 'n wit klipmuur geleë is, is 'n herinnering aan 'n donkerder seisoen in die gemeente se geskiedenis, toe haar vorige gemeentetuiste in Weslaan, Randburg, erg deur 'n brand beskadig. Hierdie is 'n kruis uit daardie ervaring. 'n Ander inspirerende element in die gebou is die twaalf loodglasvensters wat sleutelmomente in Jesus se aardse bediening uitbeeld.
- Wholeness. Die gemeente se waardes van 'n holistiese spiritualiteit word veral aangemoedig deur dit bedienings wat binne die gebou gehuisves word. Buiten 'n voltydse mediese dokter, 'n groen apteek, 'n kliniese sielkundige, 'n kindersielkundige en ander spesialiste word pastorale versorging van die gemeente ook vanuit hierdie spasie bearbei.
- Genesis. Hierdie geboue, in die boustyl wat herinner aan 'n Britse Universiteit, is opgerig om die begin van 'n reis aan te moedig (soos sy naam mag aandui). Die ses lokale (getiteld Hoofstuk 1 - 6) dien op Sondae as die hoof-bymekaarkomplek van die Kinderbediening, Planet J. Deur die week word hierdie spasie omskep in konferensielokale vir opleiding en bedieningsbyeenkomste en oefeninge; asook 'n bymekaarkomplek vir belange- en taakgroepe.
- Viaticus. Die nuutste gebou op die perseël dien as 'n uitbreiding tot Genesis. Sy naam verwys na die toerusting vir 'n reis. Die gebou beskik oor twee groot lokale wat op Sondae deur Planet J gebruik word, en deur die week vir ander gemeente-aktiwiteite. 'n Hoogtepunt van die gebou is die bekende Lounge, 'n elegante ruimte waar koffie en ligte versnapperings geniet kan word, in 'n gemaklike sitkamer atmosfeer. Aangrensend tot die ruimte is 'n binnenshuise klimraam. Die Lounge; word op Sondagoggende aangewend deur ouers wat die diens op plasmaskerms kan geniet terwyl hulle kleiner kinders op die klimraam speel.
- Teatro. Die amper 3000-sitplek toegeruste gebou is die hoof-bymekaarkomplek van die Gemeente op Sondae. Die geboubeskik oor 'n indrukwekkende verhoog wat al menigte produksies die planke laat sien het, genoegsame kleedkamer-fasiliteite en twee lokale wat as baba- of kleuterkamers kan dien. 'n Kenmerk van die gebou is die veelkleurige sitplekke wat binne in die teater geleë is, wat herinner aan die kunsvorm waarna die gemeente vernoem is. Die ingangsportaal van die gebou dien as kunsgallery.
- Communio. Die Communio is die kuierplek van die community van Mosaïek. Dis hier waar daar na dienste gekuier word, of deur die week gevier word. Cafè Familia dien as hoof spysenieringsaar vir al die aktiwiteite op die perseel, en is ook 'n populêre kuierplek oor naweek. Die Mezzanine op die onderste verdieping huisves op Sondae, die tienerbediening (Mez'o), maar deur die week is die plek waar groter byeenkomste plaasvind. Die tweede verdieping van die gebou dien as die administratiewe kantore van die gemeente.
- Piazza. Die ruim spasie wat deur die geboue omhein word, is bedek met silwer tafels en stoele. Dis waar ons kuier, fees en connect. Die fontein in die middel van die ruimte, is ook die plek waar ons twee keer per jaar die sakrament van die doop bedien. In die middel van die fontein staan 'n standbeeld deur Anton Smit, getiteld Skildfigure.