



Mosaïek Gemeente is bevoorreg om die dankbare eienaars te wees van 'n besondere kunswerk wat aan ons geskenk is deur die bekende beeldhouer, Anton Smit, en vriende. Die meesterstuk, wat sy staanplek op die platform in die fontein in die Piazza gevind het, noem hy Skildfigure - 'n gemeenskap van dié wat glo.
Soos dit met elke goeie kunswerk is, sal hierdie werk verskillende mense op verskillende maniere aanspreek. Ons sou talle temas kon vind indien ons mekaar se interpretasies van die kunswerk kon ontleed. Tog kom daar 'n paar onmiskenbare temas na vore. Hierdie temas inspireer en spreek ook van dinge wat vir ons as gemeente baie belangrik is.
Drie temas staan veral uit:
• Visioene en horisonne. Let op hoe die kunswerk spreek van dinge wat kom. Die figure se blik is op verre dinge.Verwante temas sou uitwaartse doelgerigtheid, pelgrimskap en hoop wees. Ook óns is mense wat op pad is. Die sin van die lewe in die hier en die nou is die wete dat ons 'n toekoms en 'n destinasie het. Ons leef en werk nóú omdat ons die uitnodiging aanvaar om die toekoms met God tegemoet te gaan. Die kunswerk herinner ons ook daaraan dat ons 'n missionele gemeenskap is wat nie net 'n selfgerigte lewenshouding het nie,maar wat bestaan om 'n verskil te maak, 'n lig in die duisternis te wees.
• Community. Die figure is in mekaar vervleg. Op geniale manier kry die kunstenaar dit reg om die figure struktureel één te maak sonder om 'n abstrakte versmelting uit te beeld. Verwante temas sou eenheid,paraatheid en beskerming wees. Só is dit ook in die community waarna ons streef. Unieke individue wat groei in selfvervulling, maar op só 'n manier dat ons mekaar nodig het en ondersteun. Juis hierdie brose erkenning dat ons mekaar nodig het, maak ons paraat om die aanslae van die lewe te trotseer.
• Krag. Die vorme, kleur, en oppervlaktes, asook die doelgerigte, militêre houding en bewapening van die figure spreek van 'n inherente wete dat die vermoë om die taak op hande te verrig nie ontbreek nie.Verwante temas sou gawes, talente en innerlike inspirasie wees. Só is dit ook ons eie nederige oortuiging dat ons as gemeente en elkeen van ons individueel genadig bekragtig is deur die Gees om die opdragte van ons ewige bestemming uit te voer.Waarlik, Christus bou sy kerk, en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie.
Geskryf deur Koos van der Merwe - Julie 2005