Waarom het ek nodig om stilte te beoefen?


1. A.g.v. die geraas. Die wêreld skenk aan my ‘n geraas, gemaal en gejaag. Die geraas is buite en die geraas is binne. Sonder doelbewuste stilte, afsondering en stilstand sal ek nooit by God uitkom nie.

2. Omdat God sê “Swyg aarde, God is op sy troon” (Hab 2:20). As God dan waarlik op die troon is, kan ons woorde niks byvoeg nie. Die Almagtige regeer, en ons kan daarom vrede beleef. (Sag 2:13; Sef 1:7).

3. Uit respek vir die Onkenbare. Ten spyte van die openbaring bly God vir ons die Onverstaanbare en Onverklaarbare. Om te veel te praat oor die Onuitspreeklike sou vermetel wees. Ons kan nie maak asof ons Hom ken nie.

4. Uit geloof in die Vader. God ken my, aanvaar my – het my lief! Soos ‘n kind sy vader implisiet vertrou, so vertrou ons woordeloos. Ek hoef niks te doen nie! Be still my soul, the Lord is on your side (Sibelius).

5. Omdat ek my siel stil gemaak het soos Dawid: “Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ‘n gespeende kind by sy moeder, soos ‘n gespeende kind is my siel in my” (Ps 131:2).

6. Omdat stilte soms waardevoller is as woorde – soos Job se vriende se bediening van stilte (Job 2:13) vir hom meer beteken het as hul bediening van woorde, so weet ek om my woorde te stop as dit by goddelike dinge kom (v. Amos 5:13).

7. Omdat God in die stilte praat. Na die sterk wind, die aardbewing en die vuur verbygegaan het, praat God met Elia uit die stilte (1 Kon 19:11-12). So hoor ons ook God die beste – as dit stil is. Die Heilige Gees se stem is baie sag.

8. Omdat ek moeg is van die stryd. Die Woord sê “Be still and know that I am God.” (Ps 46:11). Die wete dat Hy God is, is genoeg om die innerlike gewoel tot bedaring te bring. Sy regering is die einde van die stryd.

9. Uit navolging van Christus. Ons aanvaar dat as Christus die nag in gebed tot God deurgebring het (Luk 6:12), Hy nie die hele nag deur gepraat het nie. Nee, Hy was waarskynlik grotendeels net BY God in gebed.

10. Om by die kern van gebed te kom. Ons misverstand is dat gebed behels om my agenda God s’n te maak – om my versoeke te stel en dan te onttrek. Nee, gebed is gemeenskap, intimiteit, saamwees, tyd deurbring, liefde – of andersom gesê....

11. Uit liefde vir God. Die groot gebod is nie dat ons God sal vrees, dien, gehoorsaam (en ander goeie dinge) nie, maar dat ons Hom sal liefhê (Mat 22:37) met ons hele hart, siel en verstand. Liefde word gespel t-y-d en vra saamwees.

12. Omdat stilte God se taal is – geestelike vorming is meer as om verstandelike kennis oor God op te doen. Dit behels veral die vorming en omvorming van die hart. Die hart se taal gebruik nie woorde nie, maar dinge soos verhouding, dissipline en gehoorsaamheid. Stilte leer my dit.

13. Omdat dit my psige goed doen. Die Sielkunde (en ook ander gelowe) het ontdek dat stilte en meditasie die liggaam en gees besonder goed doen. Dit verhoog die welsyn, gesondheid en lewensverwagting van mense.

14. A.g.v. die vermetelheid van ons gebede. Ons gebede gaan op in onkunde van God se wil, van die breër prentjie en van wat ander nodig het. Dit fokus selfsugtig net op my. Dit is dikwels die “gebed van ‘n dwaas” (Pred 4:17-5:1). Dan liewer stilbly.

15. Om die Heilige Gees kans te gee om te bid. Die Heilige Gees roep in ons “Abba, Vader” (Rom 8:15) maar gebruik nie die taal van woorde nie. Hy onderskei wat in ons gees is en bid ooreenkomstig God se wil vir ons (Rom 8:26-27). Ons eie woorde maak geen bydrae tot sy gebed nie. Ons kan maar “swyg en bid”.

16. Om die “ek” agter te laat. Geestelike groei behels die oorwinning van die “ek”, wat homself altyd wil laat geld. Daarom is geestelike dissiplines nodig. Dit leer ons om teen die grein van “die vlees” te leef, soos bv. om te wil dikteer wat gebid word.

17. Om God te soek waar Hy is. Ons wil God na ons toe bring, in ons wêreld inbid, Hom as bate in ons portefeulje sit, sy dienste vir ons bekom. Maar dis geestelik beter om na God te gaan waar Hy is, en Hom op sy terme te ontmoet. En van jouself te vergeet.

18. Om vrede te beleef. As ons in gebed alles aan God oorgee, bly ons by Hom sit met vrede wat die verstand te bowe gaan (Fil 4:6-7). Dit is letterlik ‘n vrede wat nie in die verstand ontspring nie, maar in die siel en die gees. Dis goddelike (Heilige Gees) vrede.

19. Omdat dit beproefde gebed is. Reeds vir tweeduisend jaar is die “gebed van die hart”, in sy verskillende vorme (bv. voorgeskrewe gebed, herhaling, chant) die gebed van die Kerk. Dit is die teenhanger van die persoonlik-saamgestelde spontane en vrye gebed, wat ook reeds van die begin af ‘n geldige gebedsvorm is.

20. Om te wees en nie te doen nie. Ons meet ons waarde aan wat ons doen en vermag. Maar God aanvaar ons as waardevol soos ons is – ons verdien nie meriete by Hom nie. Ons moet self ook leer dat ons maar net kan wees. Presteer is nie alles is nie.

21. Om die onbewuste oop te maak. Ons onbewuste is normaalweg van ons bewuste geskei en verborge en die geraas waarmee ons leef maak dit erger. In stilte kom ons meer in aanraking met wat in ons is, en beleef ons groter integrasie.

22. Om passief te wees voor die groot Agent Ons word geleer om aktief te wees, en wil ook die inisiatief neem in ons geestelike lewe. Maar God is die “agent” van ons lewens en ons die “pasiënt”, wat oorgee sodat Hy dinge met ons kan doen.

23. Om vanuit rus te werk. Ons lees dat die eerste mense se eerste dag ‘n rusdag was (Gen 1:26-2:4). Hulle het vanuit hulle rus gewerk. As ons in gebed by God tot rus kom, bou dit vir ons krag in sodat ons na ons werk kan terugkeer. Ons disengage om te kan engage.

24. Om ‘n offer van tyd te bring. In die Ou Testament het die Here eerstelinge en tiendes gevra om ons te herinner dat ons hele lewe aan Hom behoort. Ons leef steeds met sulke dissiplines om onsself te herinner dat ook ons tyd aan Hom behoort;

25. Om in die moment te kom. Ons leef te veel in môre en te veel in gister. Dit is fisies, psigies en geestelike gesond om op die huidige (goddelike) oomblik te konsentreer – om die hier en nou te beleef, en dit alleen.

26. Om te ontspan van stres. Stres is die siekte van ons tyd – te veel word verwag van die sisteem en dit lei tot uitputting. Gekonsentreerde stilte is die totale aflaai van alle las op die sisteem en stimuleer die herstelprosesse.

27. Om te fokus. Ons gedagtes is meestal gedivergeerd, verward en hardloop oral oor. Kontemplasie in die stilte oefen ons om af te fokus op een saak, en daardie fokus te behou. Die effek is verhoogde konsentrasie ook in die res van die dag.

28. Om nie terug te praat nie. Nadat die Here vir Job uitgewys het dat Hy GOD is, en soewerein optree sonder om Hom te hoef verantwoord, het Job verstaan wie hy as mens voor God is en gesê: “nou sal ek eerder stilbly..” (Job 39:36-38).

29. Om ‘n brandende hart te bekom. Die Emmaus-gangers (Luk 24:32) se harte het gebrand toe hulle met Jesus praat. Nogtans het hulle verstand nie geweet hulle praat met Hom nie. So kan ons ook by God wees en sy teenwoordigheid met ‘n brandende hart beleef.

30. Om beheer prys te gee. Ons klou aan beheer vas asof ons vir alles verantwoordelik is. Die geestelike lewe lê egter daarin om meer en meer beheer prys te gee – te laat los. Stilte leer ons om beheer af te gee, ook in daardie tydjie van kontemplasie. Laat gebeur wat wil.

Jimi Le Roux | 3 Desember 2008

Preekreekse

Wat lê voor

Nuus