Stasionêr - die musical

‘n Voormalige diva met 'n drank-probleem, 'n sportheld in ontkenning, ‘n reisende meubelverkoper, ‘n kelnerin van die verkeerde kant van die treinspoor, ‘n kaartjieverkoopster met die droom om 'n aktrise te word en ‘n ambisieuse joernalis; is net 'n paar van die kleurvolle karakters van die nuwe Afrikaanse musiekspel, Stasionêr, wat tussen 13 en 22 Augustus by Mosaïek in Fairland, in die noord-westelike voorstede van Johannesburg, op die planke sal verskyn.

‘Ons het ‘n passie vir die kunste en wil graag vir nuwe en opkomende kunstenaars die geleentheid gee om deel van ‘n waarde-gebaseerde en hoë standaard produksie te wees,' sê Ettienne Booysen, skrywer en projekleier van Stasionêr. ‘Daar is soveel talentvolle mense wat nie die die kans kry om hul drome van 'n beroep in vermaaklikheid na te volg nie. Ons wil vir sulke mense die geleentheid bied om hul talente en gawes bloot te stel aan die gemeenskap en hulle 'n voorsmakie bied van die vermaaklikheidswêreld.'

Die geselskap van die stuk, wat op die ou end amper 'n honderd persone omvat, wat alles van tegniese ondersteuning en stelbou tot musikante, dansers en akteurs behels, ploeg almal hul talente en gawes op 'n vrywillige basis in die projek in.

‘Hierdie is die vyfde oorspronklike Afrikaanse musical wat ons by die Mosaiek Teatro - ook waar M-NET Idols vroeër die jaar aangebied is - op die planke bring en ons is opgewonde oor sowat 16 nuwe, oorspronklike liedjies wat spesifiek vir die produksie geskryf is,' voeg Ettenne by.

Johan Heystek, bekende musiekvervaardiger en musiekbediening-leier by Mosaiek, behartig die musikale direksie van die stuk, Adri Brits die regie, en Ferdinand Gernandt, bekend vir sy hoofrol in Saturday Night Fever, is die koreograaf van Stasionêr.

Stasionêr speel af op die fiktiewe dorpie Blydensfontein se treinstasie in die 1930's en twee dae uit die lewe van die dorpie se gemeenskap, en mense wat hulself bevind tussen niks en nêrens, word vertel.

‘Ek vind die era van die 1930's nog altyd baie boeiend, en wanneer die boodskap van Stasionêr in ag geneem word, dink ek hierdie is die beste era waarin die musiekspel kon afspeel. Die span, van stel- en kostuumontwerpers tot die grimeerkunstenaars en koreograaf is baie opgewonde dat die blyspel hoor die kreatiewe platform wat dit skep, en ons hoop dat ons die gehoor ook op 'n reis terug in tyd sal neem,' sê Ettienne.

'n Leidraad tot die boodskap van die stuk word weergegee in die eerste monoloog: Dis maklik om vas te haal in die lewe: hetsy die verlede, jou lewensomstandighede, jou adres, die uitdagings wat jou in die gesig staar ... En die stuk hoop om 'n uitnodiging te kommunikeer op 'n tong-in-die-kies wyse, om uit jou vasgelegde spore te kom en wat vandag, en dit toekoms, inhou te omarm.

"Ons hoop dat hierdie ‘n heerlike aand uit vir die hele gesin sal wees; en dat dalk meer as net vermaaklik sal wees ... moontlik inspirerend ook," eindig Ettienne.

Kaartjies vir Stasionêr-die musical is beskikbaar by Computicket, of rig navrae aan 083 667 2435, 011 268 4700 of
beleef@mosaiek.com . Jy is ook welkom om www.mosaiek.com/blyspel te besoek.

Preekreekse

Wat lê voor

Nuus