Ons kom eenkeer ‘n jaar na jou toe om die drome en die planne vir die tyd wat voorlê aan u voor te hou. Afgesien van ons maandelikse bedryfskostes wat gedek word deur die maandelikse tiendes en bydraes wat gegee word vra ons jou een keer ‘n jaar om te gee vir ons fokusareas en punte wat deur baie diskussies en gebed bepaal word en vasgestel word, om te sê maar dit is die goed wat ons baie graag sal wil bereik vir dit wat voorlê.
Verlede jaar het julle R2.3 miljoen gegee om dit te doen waarna jy nou gekyk het op die skerms, en waarvan ons ook gepraat het aan die einde van verlede jaar met Silwer Mossie, met die afsluiting. Nou, ons groot fokuspunte vir die tyd wat voorlê is, nommer een, ‘n eenkantkom-plek. Ons het 'n plek in die Cradle bekom, wat ons Origins noem.
Ons het geteken vir R6.5 miljoen. Twee jaar terug was die plek vir R12 miljoen in die mark. Ons is baie dankbaar. Dit is ‘n uiterse geskikte plek vir dit wat ons wil doen, want ons het agtergekom dat, afgesien van die kennis wat nodig is, verhoudings wat nodig is, en sekere dissiplines wat jy nodig het om te ontwikkel, het jy sekere ervaringe nodig om jou te vorm en jou te transformeer om ‘n dissipel van Jesus te wees.
Dis ervaringe wat nie hier kan plaasvind nie. Dis ervaringe wat kan plaasvind by Origins, en ons het alreeds begin. Ons het alreeds ‘n paar retreats gehad en ons is so dankbaar vir wat besig is om daar te gebeur. Ons moet daardie geld betaal oor twee jaar. Dis die kontrak wat ons geteken het. In die tyd wat verby is het twee persone na my toe gekom. Een het R500,000 gegee en die ander een R300,000. Ons het alreeds R800,000 ontvang vir Origins, en ek het net so ‘n ding in my wat sê dit gaan gebeur.
Jy weet, ons het nie die geld daarvoor nie, en ek weet vir die van julle wat dalk nuut is sê nou hoe onverantwoordelik kan die leierskap van hierdie kerk wees. Ons werk nog altyd so: ons het nog nooit iets aangepak as ons geld het nie. Die kere wat ons gewag het sou ons vir altyd gewag het. Jy kry nie eers die geld nie. Waar die Here lei, daar voorsien hy. Ons grootste probleem is om uit te vind of dit die regte ding is en die regte tyd is, en dan kom die geld, en met dit wat alreeds besig is om te gebeur wil ek sê my geloof is besig om te groei, ons geloof as leierskap is besig om te groei. Dit gaan werk.
Die tweede groot en belangrike fokuspunt wat ons het is Formatio vir ons groei, ons ontwikkeling. Een van die groot gawes wat ons as ‘n gemeente het is kennis, en Paulus sê vir die jong Timotius "study to show thyself approved unto God". Ons het nodig om ons gemoed te vernuwe, om kennis te kry, om anders te dink, te verstaan wat en hoekom dinge so werk, en daarvoor kom ons nou op ‘n Woensdagaand bymekaar.
Jy gaan die Bybel leer ken. Jy gaan verhoudings leer ken. Jy gaan die wêreld leer ken deur, ek dink, van die bekwaamste mense wat ons in Suid-Afrika het. Wat ‘n voorreg is dit nie. Ons droom natuurlik dat ons eendag ‘n akademie sal hê waarby ons kursusse geakkrediteer kan word, jy krediete kan doen wat jou kan opwerk na ‘n graad toe, uiteindelik ‘n meestersgraad, en ander studies te kan doen.
Dan is ‘n groot fokuspunt ons kinders. Hierdie gemeente was aanvanklik, 20 jaar terug toe ons begin het, wil ek sê die kragstasie en die dinamiek was veroorsaak deur tieners en jong mense wat die Here gevind het, en daar was ‘n groot energie. Jy weet, as jy Sondag by die kerk gekom het was dit tieners wat vir jou hallo gesê het en die goed uitgedeel het.
Ons kinders is vir ons baie belangrik. Ons dink dat die God van Abraham, Isak en Jakob ‘n God is van generasies, en toe ons hierdie hele plek beplan het was dit ons groot droom dat ons kinders by Hom sal uitkom. Ons het voordat ons die matte gelê het en die sement sag was en nat was, het ons name kom neerskryf van familielede, vriende, wat ons sê "Here, dis vir hulle wat ons dit doen", en hulle name is hier geskryf onder hierdie matte, baie van ons kinders.
My kind se naam is hier geskryf, en ek dank die Here hy het die Here gevind by Mosaïek. Hy verlang. Hy is in Nelspruit. Hy sê as daar iets is wat hy mis dan is dit hierdie plek, hierdie mense, hierdie community en wat dit vir hom beteken, en dis ons droom. Ons kinders moet Hom vind, maar ons kinders gaan ook die leierskap oorneem, en ons het gedink op ‘n lang pad vorentoe. Ons doen dit nie net vir ons 'nou' nie. Ons doen dit vir mense wat hier, uit hierdie plek en uit hierdie bediening en uit hierdie erdekruik sal put as ons nie meer hier is nie, en dis waarvoor.
Ons het personeel aangestel. Ons is besig om heeltemal op ‘n journey te gaan met ons aanddienste, te kyk hoe kan ons regtig ‘n erdekruik daarstel wat die skat daar sal stel vir ons postmoderne jong mense en die wêreld waarin hulle nou leef. Ons het baie gereedskap en goed nodig vir dit ook.
Dan vir ons uitreik na buite, ons missionele aksies. Ons het 27 gemeentes in informele nedersettings waarvoor ons verantwoordelikheid gevat het. Die meeste van daardie perdikante se salarisse word deur ons betaal. Ons kerke is ‘n gemeenskapsentrum, dieselfde konsep as wat ons... ons kerk is nie net ‘n kerk waarin ons kerk hou nie; ons wil die gemeenskap dien daardeur.
Afhangende van die groot behoefte in daardie gemeenskap dien daardie kerk behoeftes in daardie gemeenskap deur die week. Dis AIDS-klinieke, dis rekenaar-leersentrums, en baie goed gebeur in daardie kerke wat daar is. Ons het ‘n babahuis wat een van die modelle in Suid-Afrika geword het, waardeur die meeste kinders aangeneem word in Suid-Afrika... en dan gee ons vir baie kinders kos elke week, en dan is daar ‘n bejaardesorg wat plaasvind.
My hart het gebreek toe ek by die ouetehuis kom waarby ons betrokke is en ‘n tannie my vertel dat in die jaar wat verby is sy geen kontak gehad het van enige familielid nie, nie met haar verjaarsdag nie, nie oor Kersfees nie, nie nuwejaar nie. Niks nie. Niemand het haar kom bel, hallo gesê, uitgevat nie. Sy is stoksielalleen daar met groot behoeftes. Ons is daar vir daardie mense ook.
Ons het vennootskappe wat ons het, hande gevat met ander mense. Ons het ‘n baie groot werk wat ons doen daar en baie van ons finansies en goed gaan ook in dit in wat ons daar besig is om te doen.
Dan in die laaste plek is ‘n groot fokus ons kampus hier en die werk wat ons hier doen, om dit oop te hou en oop te maak ook vir ons gemeenskap en verder te gaan.
Dis vir ons ‘n baie, baie belangrike jaar om besluite te neem. Jy weet, ons huur die stuk grond hier langsaan vir parkering wat ons dikwels nodig het. Dit hou vir ons ‘n risiko in vir die toekoms, veral omdat ons besig is om te groei, waar gaan ons dan parkeer, maar ons moet besluite neem oor dit ook, maar ons moet hierdie jaar besluit waarheen gaan ons nou.
Wat ons 20 jaar terug gedroom het, dit het ons nou bereik. Dit het nou bymekaargekom. Nou, laat ek net vir jou sê, 20 jaar terug het party mense gelag. Kyk, as jy 100 mense is en jy sê ons gaan ‘n paar duisend wees, dan sê hulle is hy op ‘n trip. "Is daardie leierskap op ‘n trip? Wat rook hulle? Dis onmoontlik!" Dit het waar geword, maar nou moet ons kyk waarheen nou, wat nou. Ander plekke, ander gemeenskappe.
In ons gemeenskap is daar baie subkulture waarby ons kan uitkom. Hierdie jaar is ‘n baie belangrike re-inventing, refocusing-periode vir ons. Ons het twee groot kundiges van Amerika wat ons gaan kom besoek vir ‘n paar weke, wat saam ons gaan fasiliteer in ‘n proses om te kyk en te droom en vorentoe te gaan. Ons weet net dit het net begin, dis nie die einde nie, jy weet, en dit is hoe die Here is, jy weet, jy kan nie op sy einde kom nie, en ons kan nie op die einde kom van dit wat hy wil doen nie. Ons het nou ‘n basis. Ons het iets gekry. Wat gaan ons doen en waarheen gaan ons met dit? Ons wil dit uitfigure in die jaar wat voorlê.