Origins gaan nie oor geboue nie. Origins gaan daaroor om die gemeenskap en gemeente van Mosaïek te wees, wat ons glo Hy vir ons beplan - soos Sy prentjie vir ons al duideliker word.
Mosaïek was die kunsvorm wat die gemeenskap van gelowiges in die Noordweste van Johannesburg se verbeelding aangegryp het, toe hulle saam gebid, gewroeg en afgesonder het oor die toekoms van die gemeente.
Iets omtrent die skoonheid wat uit gebrokenheid herskep kan word, het saamgevat waarvoor hierdie gemeente wou staan: Om op persoonlike vlak te beleef hoe God uit ons gebrokenheid, iets skoons en kosbaars kan vervorm en te sien hoe gebroke lewens wat saam hulle lewens diep deel, iets beeldskoons uitbeeld. Kuns inspireer, en hulle droom was dat in hulle uitlewing van hulle geloof, ander iets kan sien van wat die Here se droom vir almal kan wees. Soos ons verstaan Jesus vir ons geleer het: Om die Here lief te hê, om ons lewens met ander diep te deel en om die wêreld te dien.
Die pad van die gemeenskap van Mosaïek is geplavei met stories uit gebrokenheid: stories van mense wat hulle gebrokenheid omarm en streef na heelheid in hulle verhouding met die Here; mense wat groei in intimiteit met dié naby hulle en passievol is om 'n verskil in ander gebroke lewens en stelsels te maak.
Hierdie is die wortels, of
Origins, waaruit Mosaïek gebore is. Dit staan geskryf op die hart van hierdie gemeenskap. Hierdie drome en hartklop het op verskeie maniere gerealiseer oor die afgelope paar jaar; onder meer 'n gemeentetuiste waar mense geïnspireer, toegerus en begelei kan word en ook saam met ander hoogtepunte kan vier.
Maar die drome is steeds in wording. God se prentjie vir ons word steeds duideliker, en ons wil goeie rentmeesters wees van wat Hy beplan.
Ons wil getrou bly aan die Origins van sy droom vir ons...
vir die kinders ... vir die volgende geslag ... vir die nuwe generasie ...
'A generation that loves to live and lives to love.' – Erwin McManusDie kinders van ons gemeenskap is belangrik. Dit is belangrik dat hulle vroeg reeds die rykdom van 'n verhouding met Jesus ontdek en daarin begin groei. Ons wil ruimtes skep waar hulle op 'n veilige en pret manier diep verhoudings kan bou, hulle geestelike ontwikkeling aanpak en kan groei.
Ons word vertrou met 'n nuwe generasie. Ons het die geleentheid om weekliks in hulle lewens in te bou en 'n verskil te maak. Ons het die kans om verhoudings wat 'n leeftyd kan duur, en waardes wat 'n ewigheid kan onderbou, te vorm.
Te midde van surplus voorsiening met die beplanning van ons kinders se bymekaarkomplekke, het hulle groei ons beplanning oortref. Ons staan verwonderd maar nederig voor hierdie uitdaging. Ons moet vir hulle genoegsame lokale en bedieningspasies skep.
vir die mense ... vir die ander ... vir die gemeenskap ...
The church exists for the sake of those outside it. – William TempleVir bykans twee dekades het daar volgehoue groei in die gemeente plaasgevind. Jaarliks is daar nuwe mense wat deel word van die gemeenskap, en hulle lewens met die waardes wat ons glo die Here ons voor geroep het, in lyn bring. Ons is oorweldig en baie dankbaar oor hierdie groeimomentum. Maar ons gemeenskap beleef ook, dat daar 'n groot verantwoordelikheid daarmee saamgaan.
Ons wil hierdie goed aanhou sien gebeur. Ons wil dit méér sien gebeur.
Ons moet nou voorsiening maak, anders kan ons logistieke uitdagings ons die geleentheid laat misloop.
Deur genoegsame parkeerspasie te skep, kan ons die momentum van groei behou.
vir die gees ... vir diepte ... vir die journey ...
'.. in the pressure of modern urban life, many wil face the need for a certain interior silence and discipline simply to keep themselves together, to maintain their human and Christian identity and their spiritual freedom. To promote this they may often look for moments of retreat and prayer in which to deepen their meditative life.' - Thomas MertonOns wil dieper gaan.
Vir meer as 15 jaar droom ons reeds daaroor: om 'n forum te skep vir vernuwing en transformasie, 'n . Om geleenthede te skep om te onttrek, 'n pelgrimstog te onderneem en bergtopervarings te beleef. Ons het gesien dat
retreats 'n groot rol speel in mense se geestelike
journeys. Ons wil die eeue-oue praktyk van eenkantkom meer deel maak van ons lewensritme.
Dit is belangrik om af te sonder, stil te word en op God te wag. Dit is immers wanneer die Bybel ons vertel ons krag sal ontvang.
Ons wil 'n Renovaré daarstel met doelmatige fasiliteite wat ruimte skep vir hierdie dinge: 'n spasie waar God ervaar kan word, buite die gejaagde lewe se eise en geraas.
vir die groei ... vir ontwikkeling ... vir vorentoe gaan ...
Study to show thyself approved unto God. – 2 Tim 2:15Die Mosaïek-gemeenskap toon 'n sterk leerkultuur: 'n kultuur wat eie is aan ons, om aan te hou groei en vorentoe te gaan. Om te leer is vir ons belangrik om ons spiritualiteit, en ons geestelike ontwikkeling te bevorder.
Kennis en groei loop hand aan hand. Ons het nie al die antwoorde nie, maar ons wil 'n gemeente wees waar almal passievol is om vrae te vra en antwoorde te soek.
Ons Akademie is onder meer een van die geleenthede in die gemeente waarin jy kan groei in jou roeping, persoonlike geestelike vorming en toegerus kan word saam met ander persone wat dalk dieselfde vrae as jy het. In ons droom om die Akademie te laat akkrediteer om formele studie te kan fasiliteer, is 'n biblioteek noodsaaklik.
'n Biblioteek sal die gemeenskap van Mosaïek blootstel aan materiaal wat ons gemeente se waardes, drome en hartklop aanspoor.
Ons is opgewonde oor wat voorlê.
Ons sien net gedeeltelik, maar dit is aangrypend.
Dit hang alles af,van waar ons onsself op die pad of journey sien.
Onthou ons wat Hy alles vir ons gegee het ...
Onthou ons waarvandaan ons kom ...
Onthou ons waarheen ons op pad is ...
Jesus het geweet dat die Vader ales in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. – Johannes 13:3
Enige navrae omtrent
Origins kan gerig word aan Tiaan Willemse
.
bankbesonderhedeMosaïek (Origins)
ABSA Cresta
Takkode 516805
Rekeningnr 01017921688 (Tjek)
(Meld asb: Lidnommer, voorletters en van.)