Haweloos - Die Musical

In 2010 se ‘Haweloos – Die musical’, wat draai rondom die vraag “Wat is huis/tuiste?” kuier ons op St. Helenabaai in die 1830’s.

Haweloos spog onder meer met Mandi Baard, wat die rol van Lara in Egoli vertolk het; Nadia Beukes, wat reeds verskeie programme op KykNet aangebied het en vir vier jaar deel was van die a capella groep, Cutt Glass; Reuben Louw, beter bekend as die sanger Jodan, wat al drie albums vrygestel het; die skrywer, akteur en vervaardiger, Morné du Toit; en Ferdi Gernandt wat reeds in verskeie teaterproduksies soos Chicago en We Will Rock You te sien was, in onder meer Suid-Afrika, Amerika, Engeland en Kanada.

Haweloos is geskryf deur Ettienne Booysen, wat blyspele soos Speel-Speel, Vere en Stasionêr agter sy naam het, en die musiek is geskryf deur onder meer die musiek-direkteur Frans van der Merwe en Johan Heystek. Die produksie se estetiese versorging is gedoen deur Stef van Deventer, en die choreografie deur Diani Gernandt.

Deur hierdie projek word 'n hele aantal kunsvorms geïntegreer om hierdie gawes en talente te vier. Meer as 100 vrywilligers neem jaarliks deel, meeste vir tydperke van langer as drie maande, waar hulle 'n paar keer bymekaar kom om te oefen, dekor te bou, liedjies te skryf, tegniese beplanning te doen en vele meer.

Sedert die ingebruikneming van die Teatro in 2004 is daar bykans elke jaar die geleentheid om die fasiliteit se ruim bedieningspasie en verhoog te benut vir indrukwekkende dekor, ritmiese choreografie, komiese spel en asemrowende tegniese toertjies.

In 2004 is die gehoor weggevoer na 'n ander wêreld om te herbesin oor die betekenis van Paasfees, met Krokketopia; in 2005 het ons gekyk na die mens se gebrokenheid, met Speel-Speel; in 2006 is daar na hoër hoogtes gemik, en oor die onderwerp van vryheid gedink, met Vere; in 2008 was ons saam op soek na hoop, in die stuk OPgeHoop; en in 2009 het ons stilgestaan op Blydensfontein se treinstasie in Stasionêr.

Preekreekse

Wat lê voor

Nuus