



Ons dink dat die kerk met baie wysheid met die kulture van die wêreld waarin ons leef, moet omgaan. Baie van die gebruike, stories en simbole in kulture het as oer-oorsprong 'n vermenging van godsdienstige en ander sosiale idees. Dit sou baie moeilik wees om al hierdie tradisies en idees uit die wêreld uit te kry.
In die kerk se geskiedenis is baie skade gedoen deur nie net tradisies met godsdienstige konotasies nie, maar kulture in die geheel te probeer verander. Die evangelie het dan gekom, nie as 'n lig in 'n kultuur wat donker elemente het nie, maar as 'n boodskap wat sommer ook die hele kultuur wil vervang. Ons uitdaging is nie om kulture te vervang met nuwe kulture nie, maar om binne kulture die waarhede van Christus se manier van lewe te bring. So sou ons dink dat dit 'n slinkse (soos Paulus sê: "vang hulle met lis") manier kan wees om waarheid in die paashaas-kultuur te bring deur die prettigheid daarvan te behou, maar om die wan-idee te laat vaar dat daar verskillende gode is waarvan die fertiliteitsgod maar net een is. Om kinders dan eerder te leer dat daar op 'n tyd mense was wat só geglo het, maar dat ons glo dat daar net een God is wat lewe aan alles en almal gee. So word die hasie en eiers dan nie uitgeboender nie, maar kom dit in diens van die waarheid. En daarme saam geniet die kinders nog die sjokolade ook!
Ons besef dat mense wat meer fundamentalisties na die lewe kyk ongemaklik sal wees met só 'n benadering tot kultuur en waarheid, maar ons het 'n gevoel ons kan ver kom om mense nader te trek met so 'n strategie. Baie van die dinge wat ons doen in Mosaïek het hierdie benadering as grondslag.