Welkom by Mosaiek! - As ek dit moet beskryf ...


1. Inleiding: Agtergrond by Mosaïek

1.1 Mosaïek Gemeente is ‘n unieke geloofsgemeenskap en ‘n plek waar jy besondere seën en groei sal beleef. Mosaïek is ‘n Afrikaanse makrogemeente met ‘n unieke, nie-tradisionele benadering wat omtrent 7000 mense bedien. Mosaïek is ‘n groeiende gemeente wat bedien vanuit die mooi kampus te Fairland. As jy uit ‘n tradisionele geloofsagtergrond kom (bv. ‘n gereformeerde of ander hoofstroom protestantse kerk) of ‘n charismatiese of pinksteragtergrond sal jy Mosaïek dalk aanvanklik anders vind as waaraan jy gewoond is en sal ‘n gids soos hierdie jou moontlik help.

Let op dat hierdie gids ‘n persoonlike opinie verteenwoordig en nie ‘n "amptelike" Mosaïek beleidsdokument is nie - waarvan Mosaïek baie min het! Dit is sommer net ‘n informele gesprek om jou inskakeling te vergemaklik. Die gids is nie omvattend nie, en natuurlik is die gemeente, soos enige gemeente, gedurig aan die verander en groei en is hierdie gids dus tydgebonde en beperk.

  • Dit is baie belangrik om so gou as moontlik ‘n Nuwe Lidmate Oriëntering by te woon waar ook baie nuttige en nodige inligting oor die gemeente gedeel sal word.

 

1.2 So ‘n bietjie geskiedenis: Mosaïek was eers Randburg Gemeente, ‘n gemeente van die AGS, wat in Weslaan, Randburg byeengekom het. Sedert 2004 is gefunksioneer vanuit die huidige kampus in Fairland en sedert 2006 is Mosaïek Gemeente ‘n onafhanklike bediening. Die skeiding met die AGS was in liefde en met wedersydse instemming en ‘n goeie verhouding word met die AGS gehandhaaf. Menige leraars het die gemeente al bedien, waarvan Johan Geyser nou al die langste in die amp is: ander wat al lank saamstap is Gert Basson, Johan Heystek, Theo Geyser (Johan se broer, tans in Stellenbosch), Koos van der Merwe (tans in George), Andries Enslin (tans in Alberton) en vele meer. Die meerderheid personeellede van Mosaïek kom nog uit Weslaan se dae, alhoewel baie nuwe leraars en staflede intussen bygekom het.

1.3 Wat beteken "mosaïek?" Dit dui op daardie saamvoeg van diverse dele wat saam ‘n eenheid vorm. Een van die uniekhede van Mosaïek is dat ons hier bymekaarkom uit verskillende agtergronde en tradisies en saam ‘n nuwe, geïntegreerde, holistiese soort bediening vorm. Die volgende is voorbeelde:

  • Mosaïek se leraars kom uit verskillende kerke. Tot op hede orden Mosaïek nie leraars nie (ons sal moontlik in die toekoms om praktiese redes, bv. t.w.v. huweliksbevestigers) - ons leraars kom vanaf verskillende pinkster-, gereformeerde of ander protestantse kerke waarvan heelwat steeds daar hulle ordinasie behou het.
  • Mosaïek se teologie is meer as net ‘n mengsel van Charismaties en Gereformeerd - dit is iets van AL die Christelike spiritualiteite deur die eeue. Ons sal daarop ingaan.
  • Mosaïek se spiritualiteit gaan oor al die aspekte van die lewe: ‘n verhouding met God, verhouding met mekaar en verhouding tot die wêreld - alles ewe belangrik om ‘n "spiritualiteit van die lewe" te skep, of wat hier genoem word "die kuns van lewe".
  • Mosaïek se lede kom uit alle kerklike agtergronde, alhoewel dit in ons SA en Afrikaanse konteks behels dat die meeste uit ‘n tradisionele gereformeerde agtergrond kom.
Uit al hierdie diversiteit vorm daar iets unieks - ‘n kunswerk waarvan die Here die kunstenaar is, en ons probeer onderskei wat dit is wat Hy met ons wil maak, sodat ons daarmee kan saamvloei.

 

1.4 Die samestelling van die gemeente is uniek in die sin dat dit verskeie regsentiteite behels. Die vernaamste is die volgende:

  • Die gemeente self is geregistreer as ‘n Public Benefit Organisation
  • ‘n Gewone winsnemende maatskappy is geregistreer (DJ Lifestyle) omdat die geboue uitverhuur word as inkomste - tot voordeel van die gemeente. Kerke mag nie handel dryf nie, want dit bring hul belastingstatus in die gedrang
  • Meer as een Art 21 maatskappy wat te doen het met die welsynswerk van die gemeente
  • Mosaïek Akademie is ‘n trust wat apart bestaan van die gemeente
  • Die direksies en rade wat die bg. bestuur
Sommige staflede werk vir die gemeente en ander vir "Lifestyle", en nog ander dien op ander maniere.

 

1.5 Die bestuur van die gemeente is tans soos volg:

  • Die Ouderlinge Forum tree op as rigtinggewende liggaam en het finale gesag. Die Ouderlinge behels vyf tot sewe senior mans of vroue wat deur die gemeente gekies word en vir ‘n termyn van twee jaar diens doen
  • ‘n Uitvoerende Komitee (EXCO) vorm die dag tot dag bestuur van die gemeente en bestaan uit Johan Geyser en enkele ander senior personeellede. 
  • Die Bedieningsleiersforum (BF) is die byeenkoms van bedieningsleiers en vergader met die oog op ko-visioenering, kommunikasie en lynbestuur.
By Mosaïek funksioneer almal onder ‘n mentor, tans genoem ‘n "katalis", en vergader gereeld met die oog op bestuur, mentorskap, coaching en belyning van die visie. Omdat Mosaïek groot is, is daar ‘n mate van korporatiewe bestuur ter sprake, maar daar word moeite gedoen om die werksomgewing te alle tye ‘n menslike en veilige plek te maak. Groot klem word gelê op ‘n mandaat, outonomie en kreatiwiteit, deelnemende leierskap, inspraak, respek, persoonlike ontwikkeling en ‘n waarderende benadering. Wat belangrik is as mens in so ‘n groot span funksioneer is
  • To dream in the stream - ons kan nie almal verskillende drome hê nie - ons moet verstaan wat die groter Mosaïek-droom is en binne in daardie droom kreatief wees en onsself uitleef. Anders trek ons almal in verskillende rigtings
  • Ons praat met mekaar - ons is nie net individue wat elk sy individuele ding doen nie. Ons het geleer dat ons nuwe idees met mekaar bespreek en afspieël. As jy iets nuuts wil doen, praat ons nie net met ons katalis daaroor nie, maar ook met ander kollegas: met portuurs, met diegene wat met kommunikasie en kunste werk, ens. So kry ons ‘n gevoel van wat gaan werk en wat nie. Baie dinge is reeds probeer en het nie gewerk nie, of is om ‘n spesifieke rede gestaak. Ons neem ook ons energievlakke in ag en is bewus dat ons in teorie baie dinge kan doen maar in praktyk net sommige dinge kan doen

 

2. Teologie- Die geïntegreerde teologie van Mosaïek

2.1 Mosaïek put baie inspirasie uit die trinitariese model van Christian Schwartz, wat die hele Christelike geskiedenis opdeel in drie hoofspiritualiteite, wat hy met die kleure GROEN, ROOI en BLOU beskryf. By Mosaïek sal jy dus ook dikwels hoor iets is groen, blou, ens. Wat beteken dit? Let op die volgende beskrywing:

Volgens Schwarz is daar net een kerk, maar die kerk kom met drie historiese gestaltes na ons. Hierdie gestaltes korrespondeer met God se trinitariese aard en ons het al drie nodig. Ons is te dikwels in ons eie denominele hoek vasgeverf en moet aansluiting vind by die breër kerk. Die drie spiritualiteite is die volgende(en ons moet nou stereotipeer om die punt te maak):

2.1.1 GOD DIE VADER - GROEN SPIRITUALITEIT

Die klem van die eerste spiritualiteit is op die algemene openbaring van God (in sy Skepping), wat ons leer ken deur die natuur. Vandaar die "groen" etiket. Hierdie spiritualiteit is ‘n aardse en natuurlike een wat belangstel in sake soos armoede, geregtigheid, bewaring, e.d.m. Dit het te doen met die Vader se sorg vir sy wêreld en sy kinders. Die kerke wat hierdie spiritualiteit uitleef is die katolieke, ortodokse, anglikaanse, lutherse en andersins "liberale" of "ekumeniese" kerke. Hierdie GROEN spiritualiteit vertoon ook die volgende eienskappe:

  • Dit betrek die menslike fakulteit van die verstand - dit is ‘n redelike, logiese geloof met die klem op die wetenskap;
  • Die geestelike elemente van hierdie spiritualieit is die herhalende (gebede, sange, belydenisse, dissiplines) en die simboliese (sakramente, rituele, kuns). 
"Uitreik" vir hierdie spiritualiteit het te doen met die bou van skole, die verskaf van voedsel, werk, behuising, barmhartigheid en omgee - dink Moeder Theresa.

 

2.1.2 GOD DIE SEUN - ROOI SPIRITUALITEIT

Die klem van die tweede spiritualiteit is op die besondere openbaring van God (in sy Seun), wat ons leer ken deur die Woord. Sedert die Reformasie het die klem geskuif en beklemtoon die tradisionele protestantse kerke (gereformeerd, presbiteriaans, metodis, baptis) of die sg. evangeliese kerke aspekte soos persoonlike geloof (bekering, wedergeboorte, oorgawe) en is hulle modus die prediking, lering, evangelisasie en sending. Omdat dit sterk oor die kruis gaan, noem Schwarz dit die ROOI spiritualiteit, wat ook die volgende eienskappe vertoon:

  • Dit betrek die menslike fakulteit van die wil - dit vra oorgawe en ‘n besluit (verkieslik vanaand nog, terwyl die musiek speel...) asook om te commit aan die kerk, sending ens. die wêreld in;
  • Die geestelike elemente van hierdie spiritualiteit is die sobere (spontane maar nugtere gebede, objektiewe psalms en gesange), en die uitleg, toepassing en verkondiging van die Woord.
"Uitreik" vir hierdie spiritualiteit het te doen met evangelisasie, wêreldsending en kerkplanting. ‘n Figuur wat hierdie spiritualiteit verpersoonlik is Billy Graham.

2.1.3 GOD DIE HEILIGE GEES - BLOU SPIRITUALITEIT

 

Die klem van die derde spiritualiteit is op die persoonlike openbaring van God (in ons harte), wat ons leer ken deur ons ervarings. Die pinsterbeweging sedert 1900 (ook reeds die gevolg van verskeie herlewingsbewegings voor dit) het die Heilige Gees (vandaar "blou") se werk kom beklemtoon en die sg. Charismatiese beweging het dit die laaste 50 jaar of so na die tradisionele kerk gebring. Ons praat hier dus van die pinksterkerke (AGS, VEK, PPK, Assemblies) asook die vele onafhanklike, charismatiese gemeentes. Die BLOU spiritualiteit vertoon ook die volgende:

  • Dit betrek die menslike fakulteit van die emosie - die behoefte aan belewing en meelewing. 
  • Die geestelike elemente van hierdie spiritualiteit is dus die meelewende sang (praise & worship), gebed en preek, die sigbare werking van die Gees: gawe, bediening, gebedsverhoring, wonders.
"Uitreik" vir hierdie spiritualiteit het te doen met power-evangelism: genesingsdienste, herlewingsreekse, tent-uitreike, ens. Dink aan Benny Hinn as aartstipiese figuur van hierdie spiritualiteit.

 

2.2 Die strewe hier by Mosaïek is om in die middel, waar die drie spiritualiteite oorvleuel te wees, en te bou aan ‘n geïntegreerde, trinitariese of holistiese spiritualiteit. Daarom sal jy van die al die kleure in ons dienste en bediening sien. Daar in die middel, waar die kleure tot wit versmelt kry ons die beste van die drie tradisies. Daar vermy ons die uiterstes wat jy by elke kleur kan kry:

  • Die groen ekstreem gaan na sinkretisme, waar alle gelowe dieselfde is, en alle paaie na God lei. Die tekort daar is aan ‘n gesonde kennis van die Woord (rooi) en ‘n persoonlike belewing van ‘n verhouding met God (blou). 
  • Die rooi ekstreem is dogmatisme, waarin geloof gereduseer word na die regte leer en waar ons probeer om elke detail van doktrine te verstaan en ander daartoe oor te haal. ‘n Lewende verhouding met God kom kort (blou) en dikwels ‘n sin vir God se geregtigheid in die wêreld (groen).
  • Die blou ekstreem is fanatisme, of spiritualisme, waarin alles vergeestelik word, en waar ‘n emosionele styl nugtere denke (rooi) en sosiale impak (groen) kan verdring.

 

Die praktyk van ons bediening by Mosaïek is dus die middelgrond, en by ons lyk die kleure min of meer soos volg:

  • GROEN: Ons waardeer die groen wêreld, groei daarin en wil dit beter verstaan. Veral wat genoem word "kontemplatiewe spiritualiteit" is dit waarin ons veral wil groei - sien verderaan. Ook in ons praktyke is daar meer groen as meeste protestantse kerke en sal jy kerse en ander simbole sien, Taize-chants en ander herhalende liedere en gebede, klem op geestelike dissiplines, veral die dissipline stilte, en die soeke na sinvolle rituele. Jy sal egter nie te veel van Moeder Maria, die Pous, beelde of ander baie tipiese Roomse elemente sien nie.
  • ROOI: Ons agtergrond is deels rooi en daarom is daar steeds ‘n sterk rooi element wat gevind kan word in ons diens, bv. ‘n goeie verstaan van die Woord, die prediking as sentrum van die diens, en die aanvaarding dat elke mens ‘n verhouding met God benodig. Jy sal egter nie veel klem op spesifieke dogmas of belydenisse vind nie (Mosaïek aanvaar die Apostolicum, en dit is genoegsaam) en daar is ‘n besliste wegskram van ‘n "beleid" vir alles. Ons is eerder ‘n insluitende, dialogiese gemeenskap wat met mekaar praat oor wat ons glo en hoekom en saam groei wat ons verstaan van God se dinge betref en wat gemaklik is met dogmatiese verskille.
  • BLOU: Ons agtergrond is ook deels blou en die blou element word by Mosaïek gevind in ons aanbidding, meelewing, gawe-geöriënteerdheid en die persoonlike geloofslewe van Mosaïekers. Wat jy nie sal vind nie is ‘n klem op die charismatiese gawes in die diens, of die leer dat spreek in tale die besondere teken van die Heilige Gees se werking is. Mense wat regtig baie blou is, voel dikwels dat Mosaïek nie ‘n gemeente is waar hulle hul kan uitleef nie.

 

2.3 Deurdat Mosaïek in die middel van die kleure wil wees beteken nie dat ander kerke (groen, rooi en blou) verkeerd is nie - inteendeel, elke kerk het sy unieke en belangrike plek en daar moet inderdaad groen, rooi en blou kerke wees. Mosaïek wil net sy eie unieke roeping onderskei en daarin groei.

 

3. Beklemtonings - Verdere belangrike aspekte by Mosaïek

 

3.1 Dis nogal moeilik om Mosaïek te tipeer - dit is immers ‘n ware mosaïek, ‘n bietjie van alles! Ons kan darem die volgende sê:

  • Mosaïek is nie ‘n tradisionele kerk nie, en nie ‘n charismatiese kerk nie. Uit die bg. kan ons ook byvoeg dat dit nie iets tussen-in is nie, soos ‘n vernuwende NG Gemeente, of ‘n konserwatiewe AGS gemeente. Nee, dit wil iets anders wees.
  • Mosaïek het vroeër aangesluit by die "Soeker-Sensitiewe Beweging", soos beoefen bv. deur Willow Creek of Saddleback in die VSA. Mosaïek het inderdaad ook ‘n sterk soekersensitiewe waarde, en dit speel ‘n groot rol in bv. ons dienste en ons uitreik na ongelowiges, maar dit het ook ‘n vaste vorm ontwikkel en ons gebruik van die konsepte graag, maar nie noodwendig meer die taal en spesifieke voorskrifte nie.
Dit sal baie help as jy die volgende kan verstaan, want dit sal Mosaïek vir jou baie duideliker maak:

 

3.2 Die Emerging kerkbeweging.

3.2.1 ‘n Kerktendens wat sterk na vore kom vandag is die sg. emergent church, of emerging church of "ontluikende kerk". Die ontluikende kerk is ‘n breë term wat baie subgroepe en nuanses bevat. Trouens, dit bestaan (tipies post-modern) in honderde variasies. Alhoewel sommige eksponente van hierdie beweging geluide maak wat die tradisionele kerk skrik maak, gaan dit oor mense wat ernstig is oor geloof Jesus Christus, en diep bekommerd is dat die tradisionele kerk besig is om onder ons voete weg te kalwe. Deur net eenvoudig aan te gaan soos altyd, is die verkeerde keuse. Hierdie nuwe generasie van Christene probeer die kontekste en kulture van ons tyd verstaan en maniere vind hoe die kerk uit sy outydse en modernistiese juk kan uitbreek en weer relevant kan word. Dit wat uit hierdie pogings of denke emerge, is die emergent kerk (maar wat emerge, is heeltemal anders as enige-iets wat ons ken!)

3.2.2 Die volgende is kortliks wat jy onder emergent kerke sal beleef:

 

  • POST-MODERNE BEKLEMTONINGS EN WAARDES ONTSTAAN - ‘n baie goeie begrip is nodig van die post-moderne wêreld wat rondom ons vorm teenoor die modernistiese wêreld wat besig is om verby te gaan. Die ontluikende kerk verstaan hoe sterk die huidige evangeliese kerk in die modernisme gewortel is, en watter beklemtonings nodig is om ons daarvan te ontstrengel. Nuwe beklemtonings is: ‘n groot waardering vir kultuur, die diversiteit van mense, die skepping en natuur, vir kuns en kreatiwiteit. Die belangrikheid om ander met respek (as mede-soeker) te benader, om oop te wees vir wedersydse begrip, om te verstaan dat ‘n proses betrokke is. Nuwe pogings om die Bybel te verstaan, bv. vanuit Joodse agtergrond. Liggaam-siel-gees word baie belangrik. Waardering vir die Vroeë Kerk - die emergent kerk gryp terug na die kontemplatiewe spiritualiteit, omdat dit ancientfuture is, en omdat "die postmodernisme meer premodern as modern" is. Nog ‘n groot klem is die onderlinge gemeenskap, en die groot woord wat nou in die tradisionele kerk indra is missionaliteit (nie missionêr soos in kruiskulturele sending nie, maar missioneel/missionaal soos in bewussyn van die hele kerk se gestuurdheid). Emergent kerke is nie noodwendig charismaties nie, en beslis nie tipies charismaties nie. Dit is evangelies, maar op ‘n ander manier - eerder missioneel. Dit is ook tipies om ‘n geïntegreerde spiritualiteit te ontwikkel.
  • AFSKEID NEEM VAN DIE TRADISIONELE, MODERNISTIESE KERK - die kerk en sy strukture, denke en taal word dikwels net agtergelaat. Belydenisse, liturgieë en vorme word in ‘n meerdere of mindere mate gesien as geloofsuitdrukkings vir ‘n tyd wat verby is. "Kerklike taal" en geykte terme word agtergelaat en nuwes word geskep. Ons kyk krities terug na ons eie tradisies en ou en geliefde gewoontes bly in die slag - dink daaraan: persepsies en gewoontes van hoe iemand "gered word", tot bekering kom, wat wedergeboorte, geesvervulling, heiligmaking, ens. is, hoe ons bid en "aanbid", Bybelstudie doen, ens. is afgelei van Bybelse konsepte maar is wesenlik die produkte van ons evangeliese tradisie van die laaste 200 jaar. Die ontluikende kerk probeer om deur al die evangeliese tradisie terug te gryp na Jesus.
  • NUWE BEDIENINGSVORME ONTWIKKEL UIT DIE BOGENOEMDE - elkeen doen dit op sy eie manier, maar nuwe vorme word ingebring: byeenkomste lyk anders (propvol kuns en kontemporêre kultuur), "prediking" is anders (met groter klem op goeie kommunikasie), "evangelisasie" is anders (baie sagter en stadiger), bedieninge sluit dalk in die kunste, ekologie en geregtigheid, gesondheid, ens.

 

3.2.3 Dit is duidelik dat Mosaïek by die emerging kerk aansluit. Mosaïek is vriende met verskeie emerging gemeentes en kerkleiers in die VSA. Maar terselfdertyd wil ons nie vasgevang word in ‘n spesifieke stereotipe, met ‘n spesifieke etiket nie. ‘n Etiket beperk jou. Ons is ook meer as ‘n "ontluikende" kerk. In sekere opsigte is Mosaïek meer tradisioneel. Dalk is ons net ‘n kerk wat op hierdie stadium en op hierdie plek werklik kerk wil wees vir ons gemeenskap.

3.3 Die kontemplatiewe spiritualiteit

3.2.1 Die kontemplatiewe spiritualiteit is die GROEN spiritualiteit van die "ou kerke". Dit is die oudste spiritualiteit, maar die een waarvan ons die minste weet. Ons is tans op ‘n wonderlike reis om meer van die kontemplatiewe Christenskap te leer en te inkorporeer in ons geïntegreerde denke. Baie van die denke is premodern, wat ook ‘n wonderlike en regstellende regterbrein-aanvulling is tot ons vreeslike linkerbrein, rasionele, modernistiese godsdiens.

3.2.2 Wat behels die kontemplatiewe spiritualiteit nou eintlik? Die volgende is voorbeelde van wat ons bedoel:

 

  • ‘N KLEM OP AFSONDERING EN STILTE - die kontemplatiewe spiritualiteit soek God in die stilte, en bedoel dit letterlik. Kontemplasie, die gebed van stilte, word beoefen en daarmee saam afsondering, eenvoud, geestelike dissiplines.
  • ‘N KLEM OP MISTERIE - die kontemplatiewe spiritualiteit, as premoderne denke, is gemaklik met misterie, paradokse en chaos. Die modernisme probeer God verstaan, analiseer, verklaar en voorspel. Die kontemplatiewe benadering probeer nie om God so uit te pluis nie, en maak vrede met sy onverklaarbaarheid en (dikwels) sy onkenbaarheid. Dit is ‘n bietjie misties en verduidelik min.
  • ‘N KLEM OP NATUURLIKHEID EN AARDSHEID - die kontemplatiewe spiritualiteit skram weg van supergeestelikheid, omdat dit baie bewus is van die "ekkigheid" (vlees) se vermoë om geestelik voor te doen. Heiligheid gaan soek hulle by die persoon wat nie sy geestelikheid of nederigheid besef nie. Een wat in alle eenvoud en vertroue leef en goed doen, liefde bewys, kinderlik glo. 
  • ‘N KLEM OP AANDAG EN WAARNEMING - die kontemplatiewe spiritualiteit vra ons om meer aandag te gee. Om die bewussyn te verhoog van dit om ons, in ons en van God. Om God raak te sien in die gewone lewe behels om te besef dat die gewone lewe heilig is; dat ons gewone lewe die geestelike lewe is.
  • ‘N KLEM OP RITMES EN HERHALING - die kontemplatiewe spiritualiteit verstaan dat herhaling dinge vaslê. Om in ritmes te leef is dus belangrik: gebede se ritmes, die dag se ritmes, die diens se ritmes, die lewe se ritmes. Ons leef in seisoene en moet dit wyslik kan onderskei. Om te herhaal is nie ‘n "ydele herhaling soos die heidene" nie, maar ‘n sinvolle vaslegging van waardes en waarhede. 
  • ‘N KLEM OP SIMBOLIEK - in die pre-literêre kulture was simbole van belang om betekenis oor te dra: die kruis, ‘n kers, die kerk, die ikone en vensters daarin, die klere en kleure - al sulke dinge. Die sakramentele vloei hieruit voort in die sin dat die Here ons help verstaan deur metafore, beelde en handelinge. Dit word uiteindelik ook ‘n baie sintuiglike en konkrete geestelike lewe. 
  • ‘N KLEM OP EENVOUDIGE LIEFDE EN DIENS - die kontemplatiewe spiritualiteit wil nie net onttrek nie, maar lê groot klem op praktiese diens en nut vir die wêreld. Dit is uit hierdie geledere dat daar veral gewerk word aan opheffing, barmhartigheid, opvoeding, geregtigheid ens. God moet in die wêreld sigbaar word, nie net in die kerk nie.
  • ‘N KLEM OP LOSLATING EN AANVAARDING - die kontemplatiewe spiritualiteit se eeue-oue wysheid leer ons om met vertroue te leef deur die verlede en toekoms in hakies te sit en die nou te beleef. Die moment. Daarmee saam kom ook die klem op loslating. Inderdaad moet ons Jesus navolg in sy prysgawe van Homself. So moet ons leer om selfloos te leef: meegee aan wat Hy doen, prysgee van my ekkigheid, en uiteindelik die lewe loslaat vas Hy my terugroep huis toe.

 

3.2.3 Soos gesê, wil ons meer van hierdie dinge leer. Spesifieke kontemplatiewe gebruike, wat jy dus van tyd tot sal vind by Mosaïek is die volgende:

  • Lectio Divina, vaste gebede, die Jesus Gebed, joernaal skryf. 
  • Stilte, kontemplasie, afsondering, retreat
  • Pelgrimstog, kontemplatiewe wandeling, labirint
  • Kontemplatiewe kuns : ikonografie
  • Seremonies, rituele, simbole en sakramente
  • Sabbat, gebedsritmes, die kerklike jaar,regula

 

3.3 Drie lewensdimensies

3.3.1 Hier by Mosaïek werk ons graag met die drie dimensies of bewegings van die lewe - die drie rigtings van verhoudings wat uit die filosofie kom, nl:

  • ‘n Verhouding tot God - hierdie is die OPWAARTSE beweging en sluit alles in wat ons ons "spiritualiteit" noem. Dit is die vertikale, kontemplatiewe dimensie van ons lewe.
  • ‘n Verhouding tot ander - hierdie is die METWAARTSE beweging en sluit alles in wat ons ons kommunaliteit of community noem. Dit is die horisontale, sosiale of relasionele dimensie van ons lewe.
  • ‘n Verhouding tot die wêreld - hierdie is die UITWAARTSE beweging en sluit alles in wat ons ons "missionaliteit" noem. Dit is die temporale of ontluikende dimensie van ons lewe: ons wording en ons wees in die wêreld.

 

3.3.2 Waar ander kerke dalk baie klem sal lê op die spiritualiteit-aspek alleen, probeer ons by Mosaïek om ewe veel aandag aan elke aspek te gee. Dit is inderdaad alles deel van die geestelike lewe. Daarom is ons visie by Mosaïek om ‘n

KONTEMPLATIEWE MISSIONELE GEMEENSKAP

te wees. In die praktyk wentel ons bedieninge letterlik rondom hierdie dimensies. Ons het bv. drie "vlagskipkursusse" (alhoewel die woord "interaktiewe leerervaring" meer sê van hoe ons ons kursusse sien:

  • OPWAARTS is ‘n kursus oor ons verhouding met God - dit gaan daarin oor lectio divina as stiltetyd-model, oor persoonlike toegangsroetes en oor ‘n geloofslewe vir die individu se spesifieke MBTI-tipe;
  • METWAARTS is ‘n kursus oor ons verhouding met ander - dit gaan daarin oor wat community is, hoe dit vorm en hoe ons dit by Mosaïek uitleef. Ons kan ook na intensionele dialoog as ‘n manier om in community te leef en na die manier hoe ons in missionele verhoudings met ander kan leef;
  • UITWAARTS is ‘n kursus oor os verhouding tot die wêreld - dit gaan oor persoonlikheid, passie, gawes en oor waar en hoe ons dit in die wêred kan uitleef.

 

Dit sal baie help as jy hierdie kursusse kan doen om ‘n beter begrip te hê van Mosaïek se denke!

3.4 Sisteem-generasie denke

 

3.4.1 Mosaïek is lief om die sisteemdenke van Armour & Browning te gebruik. Daarin onderskei hulle agt denksisteme waarmee ons te doen kry. Elke volgende denksisteem is ‘n insluiting en oorkoming van die vorige. Elkeen is ‘n sprong na groter kompleksiteit. Al hierdie denksisteme bestaan ook in elke mens, maar elkeen het ‘n funksionerende of operasionele sisteem waarmee hy gemaklik is en waaruit hy meestal opereer. Dit hou dikwels verband met sy generasie, want generasies (bv. die Baby Boomers, X-Generasie, Y-Generasie, ens.) is ook geneig om ‘n dominante denksisteem te openbaar. As mens die denksisteem van ‘n persoon of groep (bv. die gemeente) ken, kan jy beter bediening doen. Lees gerus System-Sensitive Leadership.

3.4.2 Die agt sisteme, in kort, is soos volg:

Die og. sisteme kan as premodern beskou word:

 

  • SISTEEM 1 - "OORLEWING". Hierdie denke gaan net oor oorlewing, en laat geen ander luukses toe nie. Gebed bv. funksioneer in sulke denke net as ‘n pleit vir oorlewing. Daar is wel sommige mense wat so, op die rand, leef: pasgeborenes, sterwendes, diegene in uiterste armoede. 
  • SISTEEM 2 - "GROEP". Hierdie denke gaan oor veiligheid en voorsiening wat veral bereik kan word deur ‘n sterk groepskohesie. Geloof het hier te doen met die poging om met die misterieuse magte in harmonie te bly deur offer en ritueel. God is die Mistieke en Immanente. 
  • SISTEEM 3 - "MAG". Hierdie denke gaan oor oorlewing deur mag en oorheersing. Die godsdiens wat hier ontwikkel het, het te doen met die aanbidding van die Magtige God deur ‘n uitgebreide kultus: wette, priesters, rituele, feeste en tempels - hoe groter hoe beter.

 

Die volgende sisteme sou die moderne (rasionele) era kon kenmerk:

 

  • SISTEEM 4 - "WAARHEID". Hierdie denke gaan oor die vind en ordening van leidende waarhede. Die wetenskap verklaar die wêreld en die teologie verklaar die Soewereine God. Belydenisse is belangrik om die waarheid reg te verstaan en die kerkreg orden die aanbidding.
  • SISTEEM 5 - "PRESTASIE". Hierdie denke gaan oor effektiwiteit en sukses - hoe om meer te doen. In die kerk kom die Praktiese Teologie na vore en help ons beter preek, leer, evangeliseer en beraad. Ons beleef God as die Helper wat ons bystaan deur sy Gees.

 

Die onderstaande sisteme kan as postmodern beskryf word:

 

  • SISTEEM 6 - "LIEFDE". Hierdie denke gaan oor die harmonie tussen mense: oor diens, barmhartigheid en liefde. Ons aanbid die Simpatieke en Liefdevolle God deur in kleingroepe deel te neem, te share, en deur ons deel te doen by uitreike en opheffing. 
  • SISTEEM 7 - "HOLISME". Hierdie denke het te doen met die poging tot insluiting. Onderhandeling en fasilitering is belangrik en in die kerk gaan dit oor ekumeniese sake. Ons aanbid die Akkomoderende God, wat ons verstaan, in verskillende geestelike tradisies wat ons saamvoeg.
  • SISTEEM 8 - "GLOBALISME". Hierdie denke beskou die wêreld as een. Mega-trends, maklike reise en tegnologie bereik alle mense op aarde. Mense sien hulleself as wêreldburgers, ewe verantwoordelik vir die planeet. Spiritualiteit is metafisies en gaan terug na die misterie van Sist 2 - God is die Synde.

 

3.4.3 Ons gemeente het enkele jare gelede nog met Sist 4 denke te doen gehad, maar ons gemeente bestaan tans waarskynlik hoofsaaklik uit lede van Sist 5, 6 en 7. Ons leiers in die gemeente dink waarskynlik almal op ‘n wyse wat tipies is van Sist 6,7 en 8.

4. Waardes - Sommige kernwaardes by Mosaïek

4.1 Mosaïek het amptelike kernwaardes, maar die volgende algemene waardes is belangrik om uit te lig, waarvan die eerste is INSLUITING. Hierdie waarde, wat ook soekersensitiwiteit genoem kan word, het te doen met die feit dat Mosaïek sy roeping verstaan as missioneel. Dit wil nie gemeente wees vir geowiges nie, maar vir ongelowiges. Ons roeping is na mense wat nie kerk toe gaan nie, omdat kerk vir hulle irrelevant en bedreigend is. Daarom is dit belangrik dat mense Mosaïek ‘n veilige plek sal vind. Die diens is daarop gemik dat almal ingesluit voel - niemand word uitgesonder nie, onveilige en onvoorspelbare dinge word vermy, en die diens is nie supergeestelik nie. "Binnegrappies" of "binne-inligting" word nie gedeel nie - die diens (en die gemeente) hanteer elkeen (gelowig, ongelowig, soekend, ondersoekend, ens.) op dieselfde vlak. Ons baie sterk waarde van insluiting behels dat ons mense 100% aanvaar en insluit ongeag van waar hulle op die reis met die Here is. Trouens, dit is op grond van hulle liefdevolle insluiting dat hulle sal besluit om Jesus-volgelinge te word. So het Jesus ook met buitestaanders omgegaan as "vriend van sondaars". Ons moet afsien van die gedagte dat geloof of Christenskap ‘n rasionele saak is - dit is eerder ‘n relasionele saak.

4.2 Mosaïek werk graag GAWEGEBASEER. Dit behels dat ons mense se gawes (sommer ook tipe, strengths, ens.) bekend moet wees en dat ons doelbewus daarmee moet omgaan. Om met ‘n persoon te werk wat sy gawes en vermoëns uitleef is ‘n vreugde, en lei tot ‘n hoë standaard, werksbevrediging en die ervaring van bediening. Persone word by Mosaïek soms geskuif, ten einde hulle rol nader aan hulle gawe te probeer bring.

4.3 ‘n Ander kernwaarde wat genoem moet word is die van PROSESÖRIËNTASIE. Ons moet raaksien dat die meeste dinge wat die koninkryk van God betref prosesmatig is. Ons moet ‘n kitsmentaliteit vermy. Die volgende is voorbeelde:

  • • Die reis met God is ‘n lewenslange proses. Bekering is maar ‘n punt op daardie reis wat nog dikwels herhaal sal word. Ons moet rustig en stadig werk met mense, want dis nie ons wat werk nie - dis God, en ons moet eerder maar met Hom probeer saamwerk. Ons doel is om elke mens, gelowig of ongelowig, deur ons bediening en gedrag een tree nader aan die Here te bring (van waar hy of sy ook al is.) Daarom gaan ons bedieningstyl selde oor die soeke na dramatiese bekerings, kitsheiligmaking, onmiddelike genesings, skielike ingrype, ens. (sonder om te ontken dat die Here ook so kan werk). Ons wil betrokke bly by mense oor ‘n langer termyn en hulle help onderskei wat God van hulle vra. ‘n Kitsmentaliteit probeer soms die stadige groeipad, die pynlike leerervarings of dure verantwoordelikhede vermy. Maar dis juis daar waar die groei dikwels lê.
  • • In ons besluitneming neem ons ook die stadige pad. Ons besluite word op verskillende forums en by verskillende mense afgespieël sodat ons die groter groep se wysheid an bekom. Ons wil probeer onderskei wat die regte aksie is, voordat ons daartoe kan oorgaan.

 

4.4 WHOLENESS is ‘n kernwaarde by Mosaïek. Op verskeie terreine probeer ons die konsep van heelheid deurvoer, bv.:

  • Wholeness is in die eerste plek ‘n term vir die waarheid dat ons as mense as eenheid (liggaam, siel en gees) funksioneer. Daarom het ons ook ‘n mediese bediening, psigologiese bediening, ens. Ook die mediese bediening van die Wholeness-sentrum maak gebruik van sowel tradisionele wetenskaplike mediese sorg sowel as natuurlike middels, en kyk ook na die rol van bv. stres, verhoudings, ens.
  • Wholeness is ook deel van ons bediening: ons uitreik gaan oor die geestelike behoeftes, maar ook oor die liggaamlike behoeftes, die verstandelike behoeftes, ens. Dan moet ons ook omsien na geregtigheid, bewaring, finansies en die ander aspekte wat alles deel vorm van die lewe en die gemeenskap.
Soos gesê, is ‘n holistiese, geïntegreerde blik op bediening en spiritualiteit ‘n wesenlike deel van ons hele denke.

 

4.5 Ons het ook ‘n waarde (of is dit ‘n klem) rondom TAALGEBRUIK - Mosaïek se taal is eie aan Johannesburg se ietwat gemengde taal en ons noem dit "Sagte Afrikaans" - d.w.s. Afrikaans met Engelse woorde waar ons nie ‘n Afrikaanse woord kon vind wat dieselfde trefkrag of seggingsvermoë het nie. Ons het sekere woorde in Engels oorgeneem en gebruik dit as vaste terme, bv.

  • Community - die woorde koinonia, gemeenskap ens. kom met bestaande konnotasies en beladings wat ons wil vermy
  • Wholeness - die woorde heelheid en holisme het eweneens bestaande betekenisse en bagasie wat ons wil vermy.
  • Journey - die woord journey is sommer ‘n lekker Mosaïek-woord wat die geestelike lewe as ‘n proses voorstel
Taal is by Mosaïek baie belangrik want taal skep konsepte en denke. Daarom word woorde by ons baie versigtig en doelbewus gebruik. Ons weet dat as ons ‘n kultuur wil verander ons taal moet verander en woorde doelbewus moet gebruik - soms moet mens ook nuwe taal en woorde skep. Dan is daar ook tipiese "kerklike" (churchy) woorde wat ons wil vermy omdat dit mense laat dink aan hul eie ervarings van kerk - en ons wil iets anders oordra. Daarom praat ons meestal op ander maniere van geykte kerkterme (en let op hoe taal en bediening ooreenkom), bv.
  • Bekering - ons sal maar net verwys na die keuse wat ons vir die Here maak, ons verhouding met Hom, ens.
  • Evangelisasie - ons het nie ‘n evangelisasie-program nie, maar mense besluit beslis om die Here te volg deur Mosaïek te besoek en ingetrek te word in die community. Daarom gebruik ons nie die term in die tradisionele sin nie. Daarmee ook nie die woorde "getuienis", Ons sal praat van verhoudings, uitreik, ens. 
  • Dissipelskap - ons sal maar net verwys na ons verhouding met die Here, ons lewe voor God, ons geestelike groei - "geestelike vorming" is ‘n mooi kontemplatiewe woord wat ons graag gebruik omdat dit dui op die feit dat God ons vorm - nie onsself nie.
  • Sonde - ons sal eerder praat van hoe ons God se doel met ons mis, hoe ons faal, ens.
  • Dan sal jy ook nie sommer die terme "kollekte", "broer/suster", "biduur", "heiligmaking", "wedergeboorte", "kerkraad", "doop met die Gees" en vele ander teologiese begrippe hoor nie. Ons bediening gaan aan mense vir wie hierdie terme vreemd is en dit is eerder ‘n struikelblok - dit skep onnodige afstand.
Ons wil sommer in gewone Afrikaans oor die lewe praat - oor God, die sin van alles, die dood, siekte en pyn, mislukking, stres en angs, verhoudings, die ewigheid en waar God in alles inpas.

 

5. Slot - Ontdek Mosaïek self verder!

Die bg. is net ‘n aanraking van die belangrikste konsepte om jou inskakeling by Mosaïek makliker te maak. Jy sal nog baie dinge leer i.t.v. spanfunksionering en -ritme, kultuur, beleid, uitreike, die diens, medewerkers, leierskap, die onderskeie bedieninge, die betekenis van die argitektuur en dies meer. Vra gerus uit. Sê as iets nie reg is nie. Wees oop en ontvanklik vir ‘n paradigma-skuif. Aanvaar die bona fides wat hier heers. Bowenal: maak die bydrae waartoe die Here jou geroep het, en...

...geniet die journey!

 

(Geskryf deur Jimi le Roux - Desember 2009) 

Preekreekse

Wat lê voor

Nuus