



Persoonlike Ontwikkeling is die bediening wat geestelike en persoonlike groei in die gemeente fasiliteer d.m.v. kursusse, of soos ons verkies om dit te beskou: interaktiewe leerervarings! Op baie Saterdagoggende deur die kwartaal kom daar groepe mense by Mosaïek bymekaar om saam te gesels, te deel, te leer en te groei rondom temas wat vir ons baie belangrik is. Daardie temas is die volgende:
1. Diegene wat belangstel in lidmaatskap tot die gemeente, of wat net meer wil weet van Mosaïek, woon die Nuwe Lidmate Oriëntering by. Dit is 'n ruimte waarin ons saamgesels oor die unieke roeping van die gemeente, ons spiritualiteit en waardes. Daar is ook 'n geleentheid om die gemeenteleiers persoonlik te ontmoet.
Dan bied ons leerervarings aan om groei in die drie dimensies van ons lewe te fasiliteer:
2. Die OPwaarts-kursus behels 'n oggend waarin ons meer kan ontdek oor ons verhouding met God. Ons gesels oor die geestelike lewe,geestelike dissiplines, persoonlike toegangsroetes en vele meer. Ons maak ook gebruik van toetse om ons eie, unieke verhouding met God te beskryf.
3. Die METwaarts-kursus behels 'n oggend waarin ons meer kan ontdek oor ons verhouding met ander mense. Ons gesels oor die belangrikheid van 'n lewe in community met ander en hoe ons daarin kan groei. Ons kyk ook na verhoudingsaspekte soos mentorskap, intensionele dialoog en hoe ons missionele verhoudings kan aanknoop.
4. Die UITwaarts-kursus behels 'n oggend van saamgesels oor elkeen se unieke rol en roeping in die wêreld. Ons gebruik toetse om meer te leer van ons eie gawes en kragte, passie en persoonlikheid en groei in die bewussyn dat die Here vir ons op 'n spesifieke wyse wil gebruik.
Al ons kursusse is ontspanne en interaktiewe geleenthede van ontdekking en groei. 'n Studiegids en 'n gesonde maaltyd is ingesluit by die koste. Kursusse word bekwaam en dinamies aangebied deur die gemeente-leiers.
Skryf gerus in vir een of almal van hierdie unieke geleenthede! Meer inligting oor hierdie leerervarings word op die Gemeentenuus vertoon en in die In-Kontak vermeld. Inskrywings kan by die i-Desk gedoen word, of deur van die onderstaande vorms gebruik te maak.