Origins

Origins 2010 - Jy word uitgenooi na 'n journey

Mosaïek is die kunsvorm wat die gemeenskap van gelowiges in die Noordweste van Johannesburg se verbeelding aangegryp het, toe hulle in afsondering saam gebid en gewroeg het oor die toekoms van die gemeente. Iets omtrent die skoonheid wat uit gebrokenheid herskep kan word, het saamgevat waarvoor dié gemeente wou staan: Om op persoonlike vlak te beleef hoe God uit hulle gebrokenheid, iets skoon en kosbaar kan omvorm en te sien hoe gebroke lewens wat saam die lewe diep met mekaar deel, iets beeldskoon uitbeeld. Kuns inspireer mens, en hulle droom was dat in hulle uitlewing van hulle geloof, ander iets kan sien van wat die Here se droom vir almal kan wees - soos hulle verstaan Jesus geleer het - om die Here lief te hê, om hulle lewens met ander op diep vlakke te deel en om die wêreld te dien.

Die pad van die Mosaïek-gemeenskap is geplavei met stories uit gebrokenheid: stories van mense wat hulle gebrokenheid omarm en streef na heelheid in hulle verhouding met die Here; mense wat groei in intimiteit met dié naby hulle, en passievol is om 'n verskil in ander gebroke lewens en stelsels te maak.

Hierdie is die wortels, of Origins, waaruit Mosaïek gebore is. Dit staan geskryf op die hart van dié gemeenskap. Hierdie drome en hartklop het op verskeie maniere gerealiseer oor die afgelope paar jaar; onder meer 'n gemeentetuiste waar mense geïnspireer, toegerus en begelei kan word en ruimtes waar hoogtepunte saam gevier kan word.

Maar die drome is steeds in wording. God se prentjie vir ons word steeds duideliker, en ons wil verantwoordelike
bestuurders wees van wat Hy beplan.

Ons wil getrou bly aan die Origins van sy droom vir ons

 


vir die kinders ... vir die volgende geslag ... vir die nuwe generasie ...

 

'A generation that loves to live and lives to love.' - Erwin McManus

Die kinders van ons gemeenskap is belangrik. Dit is van belang dat hulle vroeg reeds die rykdom van 'n verhouding met Jesus ontdek en daarin begin groei. Ons wil ruimtes skep waar hulle op 'n veilige en prettige manier diep verhoudings kan bou, hulle geestelike ontwikkeling aanpak en kan groei. Ons word toevertrou met 'n nuwe generasie. Ons het die geleentheid om weekliks in hulle lewens in te bou en 'n verskil te maak. Ons het die kans om verhoudings wat 'n leeftyd kan duur, en waardes wat die fondament van 'n ewigheid kan uitmaak, te vorm.

Met die aanbou van Viaticus (gefinansier deur Origins 2008) kon ons bedieningsruimtes vir die nuwe generasie uitbrei en 'n atmosferiese ruimte daarstel waarby dié geslag aanklank vind. In Origins 2010 streef ons daarna om in die aanddienste 'n belewenis te skep wat dié generasie as aantreklik en relevant beskou - wat 'n opgradering in tegnologie vra.

 

 

vir die mense ... vir die ander ... vir die soekendes ...

 

The church exists for the sake of those outside it. - William Temple

Vir bykans twee dekades het daar volgehoue groei in die gemeente plaasgevind. Jaarliks is daar nuwe mense wat deel word van die geloofsgemeenskap, en hulle lewens met die waardes wat ons glo die Here ons voor geroep het, in lyn bring.

Ons is oorweldig en baie dankbaar oor hierdie groeimomentum. Maar ons beleef ook, dat daar 'n groot verantwoordelikheid daarmee gepaardgaan. Ons wil hierdie dinge aanhou sien gebeur. Ons wil dit méér sien gebeur.

Deur addisionele parkeerruimte kon ons, uit 'n logistiese oogpunt, 'n addisionele oggenddiens daarstel - om meer mense op 'n gemakliker wyse te dien.

Beskikbare grond rondom die huidige fasiliteite kan die uitbreiding van bedieningsmoontlikhede en vergroting van kapasiteit beteken - en verantwoordelike bestuurskap noodsaak die najaag van sulke geleenthede - ook waar die invloedsfeer van die gemeente kan uitbrei.

 

vir die gees ... vir groei ... vir die journey ...

 

'... in the pressure of modern urban life, many will face the need for a certain interior silence and discipline simply to keep themselves together, to maintain their human and Christian identity and their spiritual freedom. To promote this they may often look for moments of retreat and prayer in which to deepen their meditative life.' - Thomas Merton

 

Ons wil dieper gaan. Vir meer as 15 jaar droom ons reeds daaroor: om 'n forum te skep vir vernuwing en transformasie, 'n Poustinia. Om geleenthede te skep om te onttrek, 'n pelgrimstog te onderneem en bergtop-ervarings te beleef. Retreats speel 'n groot rol in mense se geestelike journeys - en daarom word dit oorwegend meer in ons gemeente-kultuur ingebou.

Ons wil die eeue-oue praktyk van eenkantkom meer deel maak van ons lewensritme. Dit is belangrik om jou af te sonder, stil te word en op God te wag. Dit is immers wanneer die Bybel ons vertel ons krag sal ontvang. Ons wil 'n Poustinia daarstel met doelmatige fasiliteite wat ruimte skep vir hierdie dinge: 'n spasie waar God ervaar kan word, buite die gejaagde lewe se eise en geraas.

Study to show thyself approved unto God. - 2 Tim 2:15

Die Mosaïek-gemeenskap toon 'n sterk leerkultuur: 'n kultuur wat eie is aan ons, om aan te hou groei en vooruit te beweeg. Om te leer is vir ons belangrik sodat ons ons spiritualiteit en geestelike ontwikkeling kan bevorder.

Kennis en groei loop hand aan hand. Ons het nie ál die antwoorde nie, maar ons wil 'n gemeente wees waar almal passievol is om vrae te vra en antwoorde te soek.

Ons Akademie is onder meer een van die geleenthede in die gemeente waarin jy kan groei in jou roeping, persoonlike geestelike vorming en toegerus kan word saam met ander mense wat dalk dieselfde vrae as jy het. In ons droom om die Akademie te laat akkrediteer om formele studie te kan fasiliteer, is 'n biblioteek noodsaaklik.

Ons sal ook graag 'n hulpbronsentrum daar wil stel, wat saam met 'n biblioteek die gemeenskap van Mosaïek sal blootstel aan materiaal wat ons gemeente se waardes, drome en hartklop aanspoor.

 

vir die armes ... vir behoeftiges ... vir die gemeenskap ...

 

Al wat hulle gevra het, is dat ons nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer. - Galasiërs 2:10

Ons lewe in 'n wêreld omring deur pyn, lyding en armoede. Mense word vasgepen deur lewensomstandighede en uitdagings wat moeilik kan wees om te begryp, as jy nie al self daar was nie.

Deel van die uitleef van ons geloof, laat 'n groot deel van die verantwoordlikheid om 'n verskil te maak, op ons skouers. Deur die uitdrukking van ons missionele roeping, kan ons geboue in finansieel-uitgedaagte gebiede oprig wat as kerke en gemeenskapsentrums kan dien; kan ons iets so eenvoudig soos 'n kombuis oprig wat maaltye kan verskaf aan mense wie se hongerpyne enige musiek van hoop verdoof; of kan ons kapasiteit vergroot by 'n hawe soos 'n babahuis vir
verwerpte of siek kinders wat min sê oor hulle klein lewetjies het.

 


 

Ons is opgewonde oor wat voorlê. Ons sien net gedeeltelik, maar dit is aangrypend. Dit hang alles af van waar ons onsself op die pad of journey sien.

Onthou ons wat Hy alles vir ons gegee het ...
Onthou ons waarvandaan ons kom ...
Onthou ons waarheen ons op pad is ...


Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. - Johannes 13:3

 


 

Rig enige navrae aan Tiaan Willemse op 011 268 4753 of tiaanw@mosaiek.com.

Bankbesonderhede:

Mosaïek (Origins), ABSA Cresta,
Takkode 516805, Rekeningnr 01017921688 (Tjek)
Meld asb: Lidnommer, voorletters en van.

Dokumente