Die Klipkerk: 'n Waardevolle gawe vir ons Spiritualiteit

Die Klipkerk is tot mense se beskikking om te gebruik as 'n plek van gebed, stilte en afsondering. Die belewenis kan verryk word deur te verstaan wat die denke agter die bou van hierdie wonderlike plek van afsondering was. Hier volg 'n paar gedagtes rondom die rol van die Klipkerk in die spiritualiteit waarna ons streef in Mosaïek Gemeente.

1. Die Bybel en Geboue

Eerstens, 'n paar opmerkings oor Bybelse perspektiewe op geboue. Die Bybel, Ou- en Nuwe Testament, maak op 'n besondere manier melding van die plekke en geboue in God se omgang met mense.

  • God ag die plekke waar Hy met mense ontmoet belangrik.
    Jakob ontmoet die Here en die ontmoeting maak só 'n indruk op Hom dat Hy 'n altaar bou en die plek 'n naam gee omdat Hy God daar ontmoet het: "...Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as 'n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel. Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as 'n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. En hy het die plek Bet-el genoem." (Gen 28:16-19) God ag die plekke waar Hy met mense ontmoet belangrik.
    Toe God met Moses gepraat het deur 'n bonatuurlike verskynsel sê Hy dat die ontmoetingsplek verhewe en afgesonderd is: "Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond." (Ex 3:4-5)


  • Die presiese instruksies vir die bou van die tabernakel en die tempel wys op die groot verantwoordelikheid om sensitief vir sy wil te wees met die oprig van geboue
    Die woorde "volgens die bevel van die Here" kom soveel keer voor in die verslag van die oprig van die tabernakel en die tempel dat ons nie naders kan nie om diep onder die indruk te kom dat 'n bouprojek met groot omsigtigheid, baie gebed en deeglike beplanning gepaard moet gaan. Die woorde van die psalmis oor gewone huisbou is nog meer van toepassing wanneer 'n aanbiddingsplek ter sprake is: "As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou..." (Psalm 127:1)


  • Die gemeente se geboue is altyd 'n middel tot 'n doel en nooit 'n doel in sigself nie.
    Stefanus se aanklag teenoor die volk net voor hy gestenig is, was dat hulle harte verhard is. Hulle fokus was lank reeds nie meer daarop dat God verheerlik word nie. Hebsug, eersug en magsug het van hulle godsdiens iets afstootlik gemaak. Hulle innerlike verval het daartoe gelei dat hulle klem op uiterlike dinge, soos rituele, simbole en geboue eerder van skynheiligheid as van 'n soeke na God getuig het. Hulle motiewe was verkeerd en hulle fokus misplaas. Hierop lewer Stefanus die volgende kommentaar: "Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie... Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle." (Hand 7:48;51) Hierdie aanklag behoort altyd vir ons as waarskuwing te dien dat ons primêr daarop ingestel moet wees om in 'n intieme verhouding met God te leef en dat ons lewens sodoende self die woonplek van God word. In soverre die geboue wat ons oprig 'n uitvloeisel is van hierdie soort lewe, en ons rituele, simbole en geboue in diens staan van hierdie ingesteldheid, veroorsaak ons motiewe en God se teenwoordigheid in ons lewens dat ons bymekaarkomplekke ook sal getuig van sy teenwoordigheid. Hoe meer ons self "God se huis" word, hoe meer sal ons geboue dit ook word.


  • Relevantheid: Die gemeente se geboue moet beide aanbidding en verkondiging bevorder.
    Die geskiedenis werp 'n tragiese blik op hoe kerkgeboue eerder eksklusief as uitnodigend was. Weereens het die fokus en die motief van die gemeente dalk 'n groter rol as die geboue self gespeel. Tog behoort ons aanhoudend te onthou dat ons geboue uitdrukking moet gee aan dit wat werklik belangrik is. En die eerste prioroteit op God se hart is die verkondiging van die evangelie wat mense se lewens kan verander. Lewensverandering bring die behoefte aan aanbidding. Ons geboue moet dus in diens staan van aanbidding en verkondiging. Verkondiging het in die Nuwe Testament dikwels plaasgevind daar waar mense sosiaal saamgekom het, soos die Ariopagus waar Paulus die evangelie aan die Efesiërs verkondig het (Hand 17:15-34). Ons geboue moet daarom uitnodigend wees. Dit moet die kultuur waarin ons leef kan akkomodeer. Selfs sosiale funksies moet die onderliggende doel hê om in besoekers en soekendes die begeerte los te maak om nader te beweeg.

In die beplanning van ons geboue was dit ons strewe om gehoorsaam te wees aan die bogenoemde beginsels. Mag ons as gemeente so lewe dat ons geboue altyd die koninkryk van God sal dien en nooit monumente van ons eie koninkryk word nie.

  • Community
    Beide die tabernakel en die tempel was nie net die godsdienstige middelpunt nie, maar ook die sosiale middelpunt van die Joodse gemeenskap. Ook die vroeë kerk was 'n kerk waar gelowiges ook sosiaal ontmoet het. Deur die eeue het hierdie sosiale aspek van die kerk daartoe gelei dat die kerkgebou dikwels in die middel van 'n dorp was en dat dit die sosiale weefsel van die gemeenskap sterk beïnvloed het. Ons glo dat community aan die hart van die Christen se lewe moet wees. Daarom is ons geboue ook so ingerig dat dit 'n plek van community kan wees. Ons wil ons gemeente aanmoedig om die fasiliteite te gebruik vir kuier en "connect".


  • Die Koste aspek: 'n Groot Teater en 'n kleiner aanbiddingsplek, Is dit regtig nodig?
    Sommige mense reken dat die koste van 'n groot, duur gebou nie geregverdig kan word nie. Veral twee redes word hiervoor aangevoer: Die dissipline van eenvoud en sorg vir die armes. Natuurlik is dit vir ons belangrik dat mense nie moet leef met 'n sug na meer en meer nie. Die Bybel is duidelik daaroor dat 'n verterende begeerte na rykdom 'n mens se geloof kan laat skipbreuk ly. Om dus 'n groot gebou op te rig ter wille van sefverryking, status of gemaksugtigheid sou van verkeerde motiewe spreek. Waar die groei aan inkomste weens groter fasiliteite egter op die regte manier bestee word, leer die praktyk ons dat armes nie benadeel word nie, maar eerder bevoordeel word deur die tot stand kom van groot gemeentes. Een van Mosaïek Gemeente se kernwaardes is om volgens Gal 2:10 ons finansies aan te wend om armes en mense in nood te help: "Al wat hulle gevra het, is dat ons nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer." NV


2. Simboliek en Ritueel in die Klipkerk

Leonard Sweet sê: "Faith's signage must sacramentalize our spaces, places and faces... create sacred space and sacred rituals wherever (you) go."
  • Hoekom Simboliek en Rituele?
    Die Christelike geloof is deurweek met simbole en rituele:
    • Genesis is 'n boek van klippe en altare.
    • Die Ou-Testament beskryf Israel se kultuur van feeste en herdenkinge.
    • Die Tabernakel en tempel is vol simbole, kunswerke en rituele rondom die offers.
    • Die Psalms het 'n rykdom aanbiddingsrituele soos die opheffing van hande, neerkniel en neerval in verootmoediging, die skeur van klere in desperate verootmoediging en rou, musiekinstrumente wat van lof asook oorwinning en verootmoediging getuig.
    • By sy geboorte word Christus met tasbare dinge vereer: goud, wierook, mirre.
    • Die lewe van Jesus is vol simboliek en ritueel: die doop, die nagmaal, modder en speeksel by sy gebed vir 'n blinde, sy gebede op die berg, in die tuin en op geheime plekke.
    • Openbaring is 'n boek vol wierook, krone, buigings en mense wat eerbiedig neerval.
    • Die vroeë kerk het simbole gehad waarmee hulle mekaar bemoedig het, maniere van groet, tekens soos die vis en later die kruis en gebedshulpmiddele soos bidsnoere.
Met ons geboue, en veral met ons Klipkerk, wil ons hierdie Bybelse klem op ritueel en simboliek bevorder.
  • Daar is verskeie simbole en rituele in die Klikerk wat ons lewens kan verryk:
    • Die argitektuur van die klipkerk is in die Gotiese boustyl. Die gebou is in die vorm van 'n kruis, die belangrikste simbool van ons geloof. Daar is twaalf vensters, simbolies van die twaalf stamme van Israel en die Twaalf Apostels op wie se leer die kerk gebou is.
    • Die Klipkerk se hoogste punt is die hoogste van die geboue op die terrein, simbolies dat niks vir ons meer waarde het as ons verhouding met God nie.
    • In die agterste muur van die Klipkerk is daar tussen die klipwerk gleuwe gelos. Die doel daarvan is om die muur te kan gebruik vir gebedsversoeke en ook vir Lament in tye van beproewing. Hier kan 'n mens by die Klaagmuur die krisis van jou gemoed aan die Here bekend kom maak.
    • Aan die agterkant van die Klipkerk is 'n Tuin van Herinnering en teen die Muur in die tuin kan gedenkplate aangebring word. Om geliefdes se lewens te vier en hulle geloof te onthou is 'n sinvolle en opbouende gebruik van die kerk deur die eeue.
    • Die moderne blou liggies bokant die liturgiese ruimte teen die agtergrond van 'n klipmuur vind aansluiting by die ligte en klip in die ingangsportaal van die Teatro. Die moderne en die antieke kom hier bymekaar, 'n aanduiding dat ons in ons wortels die ryke antieke erfenis van die kerk wil ontgin, maar dit steeds sinvol in eietydse idioom wil beleef en kommunikeer.
    • Die eenheid van die nagmaaltafel en die kansel illustreer die één simbool wat gebruik word vir beide die Woord en die gebroke Liggaam van Christus, naamlik brood. Sy Woord bring ons by Homself, en Hy lei ons altyd weer na sy Woord.
    • Die loodglasvensters beeld uitstaande momente in die lewe van Jesus Chrisus uit. Hierdie momente kan ook gebruik word as fokuspunte vir 'n tyd van gebed of meditasie, soos hieronder uiteengesit.
    • Die kruis voor teen die klipmuur agter die liturgiese ruimte is simbolies van die pad wat die gemeente self gekom het. Tydens die bou van ons nuwe fasiliteite is die geboue op ons vorige perseel deur 'n brand feitlik vernietig. Ons is deur 'n beproewende tyd. Hierdie kruis is tussen die rommel gevind. Vir ons simboliseer dit die kern van ons geloof, naamlik dat die lyding van Christus aan die kruis gevolg is deur sy oorwinnig oor die dood. Ook óns kan deur beproewende tye gehelp word omdat Hy die lyding van die kruis en dood deurstaan het.
    • Die kerse in die Klipkerk simboliseer die opdrag in die Skrif dat ons ons geloofslewe brandend moet hou, moet aanblaas soos vuurkole. In die tbernakel- en tempelritueel moes daar permanent 'n vlam brand. Ook in die geskiedenis van die kerk het die brand van kerse aanhoudende gebed gesimboliseer.
    • Die olie wat voor in een van die houers gehou word, word gebruik vir gelowige gebed vir siekes.
    • Die dra van liturgiese drag deur die liturg en prediker is 'n ritueel waardeur ons ons afhanklikheid van die Heilige Gees se inspirasie uitbeeld. Ons sê saam met Paulus dat ons ons met Christus beklee en dat sy krag in ons swakheid volbring word.

3. 'n Gebedsriglyn volgens die lewe van Jesus soos uitgebeeld deur die Loodglasvensters:

Vir 'n tyd van toewyding, meditasie en gebed kan die simboliek wat die loodglasvensters uitbeeld sinvol gebruik word. Vanaf die ingang by die voordeur draai links en fokus gerus op die volgende uitstaande momente in die lewe van Jesus Chrisus:

  • Die Geboorte en die Ster van Bethlehem
    Gebed: U het gekom, U het gekom - lig na die duisternis. Mag u lig vandag ook weer in my duisternis kom skyn. Amen.
  • Die Doop en die Heilige Gees wat soos 'n Duif neerdaal
    Gebed: Here, U wat U laat doop het, al was daar geen sonde om van gewas te word nie, skenk my u nederigheid en was my van my sonde. Kom, o Gees, en vul ook my. Amen.
  • Die Bergpredikasie - sy Woorde Bring Lig
    Gebed: U het gesê: Salig is die wat arm van gees is... wat honger en dors is. Ek is arm sonder U, honger en dors na U woorde. Voed my, leer my, vul my, o Here, my Leermeester. Amen.
  • Die Vermeerdering van die Brode en Vissies - sy Hande Kan Wonders Doen
    Gebed: Vir die man wat sy seun na U gebring het, het U gesê: Wat dit betref-as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. Saam met hom roep ek uit: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! Ek glo in U, die Almagtige, waar u Hand beweeg kan niemand dit keer nie. Amen
  • Jesus Loop op die Water - God is Drie-Enig
    Gebed: Ek aanbid U, Drie-Enige God, alles is aan U onderworpe. O Vader, ewige bron en oorsprong van alle dinge, Christus, Ewige Redder en Heerser oor alle dinge, Heilige Gees, ewige Trooster, teenwoordig by alle dinge. Selfs die diepste waters kan U van my nie skei nie. Amen
  • Die Laaste Avondmaal
    Gebed: U Liggaam is gebreek, maak my gesond, o Heer. U bloed het gevloei, reinig my, o Heer. Amen.
  • Jesus Bid in Getsémane
    Gebed: Nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. Vorm my hart, o Heer, om saam met U hierdie heilige woorde in my hart te vestig. Amen.
  • Die Kruisiging
    Gebed: U pyn, my verlossing. U dood, my lewe. Christus my Redder, Christus my Heer. Amen
  • Die Opstanding
    Gebed: U het opgestaan en U leef! Die dood kon U nie oorwin nie, almal moet U eer. Lewende Christus, ek buig voor U. Amen.
  • Die Hemelvaart en Wederkoms
    Gebed: Alle dinge gaan verby en U kom weer. Mag ek lewe vir net twee dae: vandag en daardie dag. Kom, o Here, ja kom! Amen

4. Die Klaagmuur en Tuin van Herinnering

Die idee van 'n klaagmuur kom van die klaagmuur in Israel. Hierdie muur is 'n oorblyfsel in die omgewing van die Ou Tempel. Jode beskou dit vandag as 'n heiligdom en gebruik dit vir belangrike godsdienstige seremonies en ook vir persoonlike gebed. Orals op die muur is die gleuwe tussen die klipwerk gevul met papiertjies waarop bidders hulle gebede en versoeke neergeskryf het.

Ons eie klaagmuur kan ook baie sinvol gebruik word. Dit is omring met die halfronde muur rondom ons Tuin van Herinnering waarin die as van afgestorwe geliefdes en gedenkplaatjies geplaas word om hulle lewens te vier. Hierdie tuin vorm dan 'n intieme plek vir gebed, en skep ook 'n ideale omgewing vir Lament, oftewel die uitstort van ons harte voor God in moeilike tye.

Die hele Bybel is vol van die Klaaglied, of Lament, waar gelowiges in die krisis van hulle lewe na God toe kom om hulle vrae, stryd, verwarring te verwoord, soos byvoorbeeld duidelik word in Psalm 142:3: "Ek stort my klagte uit voor sy aangesig; ek maak voor sy aangesig my nood bekend."

Die gedagte dat ons net altyd positiewe dinge moet bely en nooit mag weën of kla by God nie, is 'n on-Bybelse siening. Om ons harte voor God uit te stort, beteken juis om dit wat binne in ons tot woorde te bring. Dit help nie om net positiewe belydenisse te doen (al is dit waardevol) maar nooit eerlik jou klagtes in gebed na God toe te bring nie. Dit is juis in hierdie proses van eerlik voor God wees, waar ons klag in lof kan verander.

Om 'n afgesonderde plek wat slegs vir hierdie doel opgerig is, is 'n voorreg. Maak gerus van ons Tuin van Herinnering en Klaagmuur gebruik, individueel of as kleingroepe of gebedsvennote.

Skakel gerus ook met Mosaïek se Pasorale Sorg vir besonderhede vir die gebruik van die Muur van Herinnering vir die berg van die as van afgestorwe geliefdes.

5. Hoekom plaas ons so 'n groot klem op stilte?

Stilte en bepeinsing is ook 'n primêre sielkundige behoefte van die mens. Volgens 'n Oostenrykse sielkundige, dr. Satura, het die mens drie basiese behoeftes: Prestasie, Ekstase en Entase. Ons kultuur beklemtoon dikwels die eerste twee, maar entase word dikwels verwaarloos. Entase is die primêre behoefte om tot rus te kom, in jou self tot rus te kom. Hierdie inkering na afsondering, waar ek kan vriende word met myself en in daardie lig kan kom sit wat net skyn waar 'n mens alleen is met sy God, is soos 'n goue draad reg deur die Bybel te vind. Hoe dikwels is ons nie ook soos die Israeliete wat deur die profetiese woord aangekla word nie: "Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie..." Jes 30:15. Ons het die kuns van stilte verloor. Die kuns eenkantkom totdat die dolheid óm en in ons tot bedaring kom. Ons wêreld bied nie meer veel plekke wat hulle daartoe verleen nie. Die stilte het onwelkom geraak. Miskien is die grootste geraas in ons (as ons dit maar wil hoor) juis die geroep van die stilte wat ons uitnooi om alleen te kom. Die Klipkerk bied ons 'n geleentheid om weer van ons behoefte aan stilte bewus te raak. Deur persoonlike gebed, toewyding, meditasie en stilte, asook deur ons wydingsdienste fokus ons op God wat die siel se dieper stilte gee.

Stilte vorm in die Bybel en in die kerk se geskiedenis 'n groot deel van mense se aanbiddingsbelewenis.

  • Wanneer God se teenwoordigheid kennelik ervaar is, is stilte as dikwels die reaksie daarop soos byvoorbeeld in die volgende twee Skrifgedeeltes wat handel oor die belewenis van God se teenwoordigheid in die tempel:
    Maar die HERE is in sy heilige tempel-swyg voor Hom, o ganse aarde! Amos 2:20 / Swyg alle vlees voor die HERE! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning. Sag 2:13
  • As manier van meditasie, eerbied en oorgawe is stilte in die psalms dikwels 'n voertuig:
    Sidder, en moenie sondig nie; spreek in julle hart op julle bed, en wees stil. Sela. Psalm 4:5
  • Ook as teken van vertroue in moeilike tye is stilte kenmerkend:
    Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil. Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie. Hoe lank sal julle aanstorm op 'n man, julle almal hom verbrysel soos 'n muur wat oorhang, 'n omgestote klipmuur? Ja, hulle hou raad om hom van sy hoogte af te stoot; hulle het behae in leuens; met hul mond seën hulle, maar met hul binneste vloek hulle. Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting! Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie. By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God. Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is 'n toevlug vir ons. Psalm 62:2-9


Geskryf deur Koos van der Merwe - Augustus 2005