



Gewoonlik elke jaar teen Mei-maand begin dit gons binne die kuns-spanne van Mosaïek ... want dan begin daar voorbereidings getref word vir die jaarlikse musical.
Reeds 'n opwindende hoogtepunt op ons gemeente se kalender, betrek hierdie jaarlikse inisiatief minstens 'n honderd medewerkers wat hulle unieke talente kom inploeg om 'n produksie van hoogstaande gehalte aan te bied; maar wat hulle hoop mense sal inspireer en 'n verskil sal maak.
Mense meld aan om te help met dekor en rekwisiete, tot kostuums, verhoogbestuur, tegniese kunste, bemarking, grimering ... die lys gaan aan. En dan praat ons nie eens van akteurs, sangers, dansers, musikante, choreograwe en dies meer nie.
Want vir omtrent drie en 'n half maande doen hierdie spanne die lewe intens saam. Met oefeninge wat soms tot drie maal per week behels, is hierdie 'n ingrypende belewenis van vriende maak, saam deel met lewens-issues en mense in jou lewe innooi wat saam met jou die pad met Jesus loop.
En dan is daar nog die waardevolle gehore wat ons die voorreg het om voor op te tree. Hierdie is 'n belewenis duisend!