Spasie


Dit het in 'n tuin begin. En saans teen skemer het die ontmoetings plaasgevind. Daarna is offers van eerste opbrengste gebring. Na 'n sondevloed, 'n altaar met brandoffers. 'n Droom het 'n klippilaar-ontmoeting na 'n huis van God laat vernoem. Daar was 'n ark wat in 'n pelgrimstent, wat as tabernakel bekend gestaan het, geswerf het. Om ontmoetings toeganklik te maak op jarelange reis. Later 'n tempel in 'n hoofstad. Daar was musikante in grotte, profete op berge, leiers onder bome en mismoediges langs fonteine. 'n Stal, 'n put, 'n gebedstuin, 'n bokamer, 'n binnekamer, 'n tronksel, 'n woning, 'n opelugteater ... die lys hou nie op nie. En dit is ook nie veronderstel om op te hou nie.

Ruimtes waar ontmoetings met God plaasvind – die Bybel is vol daarvan. Stories en vertellings van plekke en tye waar mense God beter kon leer ken, waar hulle die Here se stem kon ervaar, besluite kon neem, kon bid en aanbid ... Momente waaruit ons geloofsgeskiedenis neergepen kon word.

Hierdie is heilige spasies van inspirasie. Waar, baie keer, die rokende lamppit weer aangesteek word, of dalk net die geknakte riet nie afgebreek word nie.

Ruimtes van goddelikheid op aarde kan vandag op baie plekke gevind word. In teaters (dink maar aan onsself of Hillsong London), winkelsentrums (Mars Hill, Rob Bell), nagklubs (Mosaic Los Angeles, Erwin McManus), parke, amfiteaters, grotte, katedrale, klipkerke, gedenktekens ... sommige van hierdie ruimtes het al sogenaamde sterstatus bereik: St Peter's Basilika in Rome, Notre Dame in Parys, St. Paul's in Londen of die opkomende Sagrada Familia in Barcelona. 'n Besoek aan enige van hierdie plekke, as jy die flitsende kameras vir 'n oomblik vergeet – laat jou stil. Iets oneindigs en antieks spreek jou aan. Die skoonheid van gekunsteldes bekwaam in hulle amp wat met toewyding, gebeeldhou, geskilder, ge'loodglas' of gekerf het, spreek jou aan. Die eeue van aanbidders wat voor jou gekom het, tussen die banke en loopgange deur, se gebede hang nog – om die Onveranderlike een se aangesig te kom soek.

Dis asof hierdie ruimtes 'n geheue het, en jou geloof versterk omdat jy jou krag put uit die wete – daar was miljoene voor jou wat ook geworstel en gevier en kon dank in hierdie plek.

Maar hierdie spasies is ook kontensieus. Bomdreigemente land gereeld voor die Vatikaan se deur. Kerke in sekere lande word afgebrand omdat dit waarvoor die kruis op die toring daarvan staan, nie durf sin te maak nie. Die Middeleeue vertel van hele dorpe se inwoners wat binne kerke opgesluit is en dan aan die brand gesteek is. Hoekom juis in daardie ruimte? Omdat dit bloot die grootste lokaal beskikbaar was? Of is daar meer? Dalk het die sadistiese vyand gedink dat dit ironies is om hulle hoop te laat verloor in die plek waar hulle juis hoop gevind het.

Hierdie spasies is meer as net mure of gedenkplek. Dit beteken meer. Die ruimtes van ontmoeting tussen ons en God moet geheilig word. Hetsy dit in ons binnekamer, in die natuur, in 'n Klipkerkbyeenkoms, in 'n teater, in 'n kar.

Waar geskiedenis ons vertel dat hierdie ruimtes deur geweld bedreig is, dink ek die bedreiging het verander. Vandag is die grootste bedreiging van hierdie ruimtes, ons skedules.

Tyd. Dis die een veronderstelling wat al hierdie ruimtes en spasies kan inperk. As ons nie spasie in ons drukkende skedules, of ons veeleisende verhoudings maak nie, gaan ons ook daardie ruimtes van ontmoeting met God verloor.

Mag jy spasie vind.

Nuus

Artikels

X
Loading