Redes vir 'n groot gemeente
- 'n Groot gemeente is skriftuurlik
Die eerste gemeente het begin met 3000 lidmate (Hand 2:41). Die gemeente het gegroei totdat daar omtrent 5000 families was (Hand 4:4). Ons gemeente was in 1991 ± 150 lidmate. Ons het sedert daardie tyd bly groei en is vandag ± 3500 lidmate.
- Ons glo in groei
Die Here wil sy gemeente laat groei want Hy wil nie hê dat iemand verlore moet gaan nie (1 Tim 2:14). Alhoewel ons baie dinge kan doen om die gemeente te probeer bou, is dit net God wat die gemeente laat groei (1 Kor 3:6). Ons dink dat 'n gemeente sal groei as die hand van die Here op die gemeente is (Hand 11:21). Dit beteken nie dat elke gemeente 'n makrogemeente moet word nie. Daar is verskillende dimensies van groei: ons kan opgroei en sterker word in ons verhouding met Hom, ons kan na binne groei en sterker word in ons verhouding met mekaar, en ons kan na buite groei en meer word. Al hierdie dimensies van groei is belangrik.
- 'n Groot gemeente bied ryke gemeenskap
Ons lees dat die eerste kerk volhard het in die gemeenskap van die heiliges (Hand 2:42). Daar is 'n verkeerde idee dat 'n groot gemeente koud en formeel is en dat 'n mens net 'n nommer word. Die waarheid is dat 'n mens net ± 60 mense in 'n gemeente sal ken en met net 10 mense in 'n diep verhouding sal leef. Dit maak nie saak hoe groot die gemeente is nie. Enige gemeente kan koud raak as dit nie die waarde van gemeenskap (community) onderskryf nie. In ons gemeente is daar 'n verskeidenheid van kleingroeplewe wat nie voorheen in die gemeente kon wees nie. Groepe vir dames, sakemanne, sport, 4X4, tieners, ens.
- ’n Groot gemeente bied baie bedieninge
Dit is vir my wonderlik dat my kind Sondae by iemand kan sit wat 'n passie het vir kinders en 'n gawe het om kinders te kan leer. Vroeër jare het die bedienings in die gemeente op 'n paar persone neergekom. Ons het nie noodwendig die gawe of die passie gehad om baie van die dinge te doen wat ons gedoen het nie. Vandag is daar 'n groot verskeidenheid en baie diepte in die bedienings as gevolg van die hoeveelheid mense. Daar is ook soveel geleenthede om diens te kan verrig volgens ons passies en gawes.
- 'n Groot gemeente het invloed
Daar is krag in getalle. Skielik het die gemeenskap van ons kennis geneem en het ons nou 'n invloed wat ons voorheen nie gehad het nie. Ons kan nou 'n veilige omgewing skep waar mense ondersoek kan instel na wat dit behels om 'n Christen te wees.
- ’n Groot gemeente kan resources deel
As 'n klein gemeente was ons fokus op oorlewing. Elke maand was 'n stryd om net die deure van die kerk oop te hou. Die fokus in 'n groot gemeente skuif na impak. Die gevaar is dat 'n mens met sukses opgeneem kan word. "It is not survival, nor success, but significance that makes the difference. Only the rich can help the poor." (Rich de Vos). Ons is vandag in 'n posisie waar ons 'n paar gemeentes en 'n sendingplaas onderhou.
- 'n Groot gemeente berei ons voor vir die hemel (Openbaring 7:9-10)
Dit is die rede virons bestaan: om 'n getroue gemeente te wees. Ons gaan altyd met hierdie passie leef. Ons wil ons vriende, familie en mense wat God op ons pad plaas, by Hom uitbring.
Die Here gebruik ons as 'n groot gemeente om mense by Hom uit te bring, hulle by te staan in geestelike groei en uit te vind wie hulle regtig is om deur God gebruik te word.