'n Teologie oor geboue


Ons is oortuig dat doelmatige geboue vir die samekoms van die gemeente, in God se plan vir ons is, om die gemeente en ons omgewing effektief te bedien. Die Bybel, Ou en Nuwe Testament, maak op 'n besondere manier melding van die plekke waar God met mense ontmoet het. Vanuit hierdie deurlopende tema in die Bybel kry ons 'n aanduiding van die belangrikheid van geboue en kan ons as't ware 'n teologie oor geboue vorm.

Ontmoeting

God ag die plekke waar Hy met mense ontmoet belangrik. Jakob ontmoet die Here en die ontmoeting maak só 'n indruk op Hom dat Hy 'n altaar bou en die plek 'n naam gee omdat Hy God daar ontmoet het: "...Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as 'n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel. Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as 'n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. En hy het die plek Bet-el genoem." (Gen. 28:16-19)

Toe God met Moses gepraat het deur 'n bonatuurlike verskynsel sê Hy dat die ontmoetingsplek verhewe en afgesonderd is: "Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond." (Eks. 3:4-5)

Sensitiwiteit

Die presiese instruksies vir die bou van die tabernakel en die tempel wys op die groot verantwoordelikheid om sensitief vir sy wil te wees met die oprig van geboue.

Die woorde "volgens die bevel van die Here" kom soveel keer voor in die verslag van die oprig van die tabernakel en die tempel dat ons nie naders kan nie om diep onder die indruk te kom dat 'n bouprojek met groot omsigtigheid, baie gebed en deeglike beplanning gepaard moet gaan. Die woorde van die psalmis oor gewone huisbou is nog meer van toepassing wanneer 'n aanbiddingsplek ter sprake is: "As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou..." (Psalm 127:1).

Fokus en motief

Die gemeente se geboue is altyd 'n middel tot 'n doel en nooit 'n doel in sigself nie.

Stefanus se aanklag teenoor die volk net voor hy gestenig is, was dat hulle harte verhard is. Hulle fokus was lank reeds nie meer daarop dat God verheerlik word nie. Hebsug, eersug en magsug het van hulle godsdiens iets afstootlik gemaak. Hulle innerlike verval het daartoe gelei dat hulle klem op uiterlike dinge, soos rituele, simbole en geboue eerder van skynheiligheid as van 'n soeke na God getuig het. Hulle motiewe was verkeerd en hulle fokus misplaas. Hierop lewer Stefanus die volgende kommentaar: "Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie... Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle." (Hand 7:48;51). Hierdie aanklag behoort altyd vir ons as waarskuwing te dien dat ons primêr daarop ingestel moet wees om in 'n intieme verhouding met God te leef en dat ons lewens sodoende self die woonplek van God word. In soverre die geboue wat ons oprig 'n uitvloeisel is van hierdie soort lewe, en ons rituele, simbole en geboue in diens staan van hierdie ingesteldheid, veroorsaak ons motiewe en God se teenwoordigheid in ons lewens dat ons bymekaarkomplekke ook sal getuig van sy teenwoordigheid. Hoe meer ons self "God se huis" word, hoe meer sal ons geboue dit ook word.

Relevantheid

Die gemeente se geboue moet beide aanbidding en verkondiging bevorder.

Die geskiedenis werp 'n tragiese blik op hoe kerkgeboue eerder eksklusief as uitnodigend was. Weereens het die fokus en die motief van die gemeente dalk ’n groter rol as die geboue self gespeel. Tog behoort ons aanhoudend te onthou dat ons geboue uitdrukking moet gee aan dit wat werklik belangrik is. En die eerste prioroteit op God se hart is die verkondiging van die evangelie wat mense se lewens kan verander. Lewensverandering bring die behoefte aan aanbidding. Ons geboue moet dus in diens staan van aanbidding en verkondiging. Verkondiging het in die Nuwe Testament dikwels plaasgevind daar waar mense sosiaal saamgekom het, soos die Ariopagus waar Paulus die evangelie aan die Efesiërs verkondig het (Hand 17:15-34). Ons geboue moet daarom uitnodigend wees. Dit moet die kultuur waarin ons leef kan akkomodeer. Selfs sosiale funksies moet die onderliggende doel hê om in besoekers en soekendes die begeerte los te maak om nader te beweeg.

In die beplanning van ons geboue was dit ons strewe om gehoorsaam te wees aan die bogenoemde beginsels. Mag ons as gemeente so lewe dat ons geboue altyd die koninkryk van God sal dien en nooit monumente van ons eie koninkryk word nie.

Die koste-aspek

Sommige mense reken dat die koste van 'n groot, duur gebou nie geregverdig kan word nie. Veral twee redes word hiervoor aangevoer: die dissipline van eenvoud en sorg vir die armes. Natuurlik is dit vir ons belangrik dat mense nie moet leef met 'n sug na meer en meer nie. Die Bybel is duidelik daaroor dat 'n verterende begeerte na rykdom 'n mens se geloof kan laat skipbreuk ly. Om dus 'n groot gebou op te rig ter wille van selfverryking, status of gemaksugtigheid sou van verkeerde motiewe spreek. Waar die groei aan inkomste weens groter fasiliteite egter op die regte manier bestee word, leer die praktyk ons dat armes nie benadeel word nie, maar eerder bevoordeel word deur die tot stand kom van groot gemeentes. Een van Mosaïek Gemeente se kernwaardes is om volgens Gal 2:10 ons finansies aan te wend om armes en mense in nood te help: "Al wat hulle gevra het, is dat ons nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer." (Gal. 2:10 NV).

Simboliek en ritueel

Leonard Sweet sê: "Faith’s signage must sacramentalize our spaces, places and faces… Create sacred space and sacred rituals wherever (you) go."

Die Christelike geloof is deurweek met simbole en rituele:

  • Genesis is 'n boek van klippe en altare
  • Die Ou-Testamentiese kultuur van feeste en herdenkinge
  • Die tabernakel en tempel is vol simbole, kunswerke en rituele
  • By sy geboorte word Christus met tasbare dinge vereer: goud, wierook, mirre.
  • Die lewe van Jesus is vol simboliek en ritueel: die doop, die nagmaal, modder en speeksel by sy gebed vir 'n blinde, sy gebede op die berg, in die tuin en op geheime plekke
  • Openbaring is 'n boek vol wierook, krone, buigings, mense wat eerbiedig neerval.
Met ons geboue, en veral met ons Klipkerk, wil ons hierdie Bybelse klem op ritueel en simboliek bevorder.

Community

Beide die tabernakel en die tempel was nie net die godsdienstige middelpunt nie, maar ook die sosiale middelpunt van die Joodse gemeenskap. Ook die vroeë kerk was 'n kerk waar gelowiges ook sosiaal ontmoet het. Deur die eeue het hierdie sosiale aspek van die kerk daartoe gelei dat die kerkgebou dikwels in die middel van 'n dorp was en dat dit die sosiale weefsel van die gemeenskap sterk beïnvloed het. Ons glo dat community aan die hart van die Christen se lewe moet wees. Daarom is ons geboue ook so ingerig dat dit 'n plek van community kan wees. Ons wil ons gemeente aanmoedig om die fasiliteite te gebruik vir kuier en connect.

Simbole en rituele in die Klipkerk

 

  • Die Klipkerk het 'n Gotiese boustyl. Die gebou is in die vorm van ’n kruis, die belangrikste simbool van ons geloof. Daar is 12 vensters – simbolies van die 12 stamme van Israel en die 12 apostels op wie se leer die kerk gebou is.
  • Die Klipkerk se hoogste punt is die hoogste van die geboue op die terrein. Dit is vir ons simbolies dat niks vir ons belangriker is as ons verhouding met God nie.
  • In die agterste muur van die Klipkerk is daar tussen die klipwerk gleuwe gelaat. Dit is om die muur vir gebedsversoeke en ook vir weeklaag in tye van beproewing te kan gebruik. By die klaagmuur kan jy jou hart voor die Here uitstort.
  • 'n Muur van Herinnering word agter die Klipkerk gevestig. Gedenkplate kan teen die muur aangebring word om geliefdes se lewens te vier en hul geloof te onthou. Dis al eeue 'n sinvolle en opbouende tradisie in die kerk.
  • Die moderne blou liggies bokant die liturgiese ruimte teen die agtergrond van die klipmuur, sluit aan by die ligte en klip in die ingangsportaal van die teater. Hier ontmoet die moderne en die antieke – 'n aanduiding dat ons geanker is in die ryke, antieke erfenis van die kerk, maar dit steeds sinvol in eietydse idioom wil uitleef en oordra.
  • Die eenheid van die nagmaaltafel en die kansel, illustreer die brood, wat die één simbool is wat gebruik word vir beide die Woord en die gebroke Liggaam van Christus.
  • Die loodglasvensters beeld betekenisvolle oomblikke in die lewe van Jesus Christus uit. Dit kan ook gebruik word as fokuspunte vir tye van gebed of meditasie.
  • Die kruis teen die klipmuur agter die liturgiese ruimte, is simbolies van die pad wat die gemeente self geloop het. Tydens die bou van ons huidige fasiliteite is die geboue op ons vorige perseel feitlik vernietig deur 'n brand. Hierdie kruis is tussen die rommel gevind. Vir ons simboliseer dit die kern van ons geloof, naamlik dat die lyding van Christus aan die kruis gevolg is deur sy oorwinning oor die dood. Ook óns kan in tye van beproewing, versterk word, omdat Hy die lyding van die kruis en dood verduur het.
  • Die kerse in die Klipkerk simboliseer die opdrag in die Skrif dat ons ons geloofslewe brandend moet hou, en soos kole vuur moet aanblaas. In die tabernakel- en tempelritueel moes daar permanent 'n vlam brand. Ook in die geskiedenis van die kerk het die brand van kerse volgehoue gebed gesimboliseer.
  • Die olie voor in een van die houers, word gebruik om siekes te salf.
  • Die dra van die liturgiese drag deur die liturg en prediker is 'n ritueel, wat ons afhanklikheid van die Heilige Gees se leiding, uitbeeld. Ons sê saam met Paulus dat ons ons met Christus beklee en dat Sy krag in ons swakheid volbring word.

Gebruik die Klipkerk gerus vir tye van afsondering, en woon gerus die byeenkomste by.



Geskryf deur Koos van der Merwe - Augustus 2005

Nuus

Artikels

X
Loading