Mosaïek se posisionering in die breë kerkgemeenskap


Historiese aanloop

Mosaïek vind sy wortels in AGS Randburg, 'n gemeente met ongeveer 100 lidmate in 1990 met 'n tipiese pinkster liturgie en bedienings­filosofie in die herder-kudde model. Sedert­dien het die bedieningsfilosofie en liturgie verander en die fokus het verskuif om die behoeftes eie aan die mense van die omgewing aan te spreek. Die effek was 'n liturgie en bedieningstyl wat nie as tipies AGS beskryf kon word nie.

Motivering vir Mosaïek se huidige posisio­nering in die breë kerk

Ons het twee dinge waargeneem:

  • Eerstens: Die groei in die gemeente het meegebring dat die gemeente al hoe meer van die denominasie se gesentraliseerde funksies soos sending, welsyn en gemeenskapsdiens self begin vervul het. Hierdie tendens, dat 'n makro-gemeente die funksies van die denominasie begin dupliseer, word wêreldwyd waar­ge­neem. In die meeste gevalle maak sulke gemeentes hulleself los van die denominasie waaraan hulle behoort. Dikwels sonder dat daar 'n goeie verhouding bly voortbestaan.
  • Tweedens: 'n Groot segment van die gemeenskap waarin ons bedien, heg meer waarde aan die plaaslike gemeente as aan die breër denomi­nasie, en 'n groot segment het ook negatiewe persepsies van historiese denominasies. Hierdie houding teenoor denominasies het ons missio­nêre effektiwiteit as gemeente belemmer.

Die proses wat gelei het tot Mosaïek se huidige posisionering in die breë kerk

Die ouderlinge en leierskap van Mosaïek het in geprek getree met die ampsdraers van die AGS. Na baie onderhandeling en gebed het die AGS se Nasionale Leiersforum (gelykstaande aan die hoofsinode van ander kerke) besluit dat dit vir die werk van die Here in hierdie omgewing die beste sal wees om Mosaïek konstitusioneel los te maak van die AGS. Die gemeente funksioneer dus as 'n onafhanklike gemeenskapskerk, terwyl ons op verhoudingsbasis sal assosieer met die AGS. Dit is ons oogmerk om ook met ander kerke op hierdie manier te assosieer.

Om 'n gemeente met goeie verhoudinge konstitu­sioneel te onthef, is sover ons weet ongeken in die denominele kerkewêreld. In hierdie opsig het die AGS met waagmoed en innoverende denke 'n voorloper geword. Daar is wel appèl aangeteken teen hierdie besluit en nadat die saak in 'n kerklike hof gedien het is die appèl van die hand gewys. Die situasie is dus dat Mosaïek 'n onafhanklike gemeente is.

Waar ons nou staan en ons toekomsvisie

Mosaïek het intussen die proses betree om 'n konstitusie te skryf en beleid te vorm. In hierdie proses wil ons ons as post-denomineel posi­sioneer. 'n Paar verduidelikende opmerkings:

  • Ons is nie anti-denomineel nie. Die grootste deel van die liggaam van Christus funksioneer binne denominele verband. Ons eer die liggaam van Christus binne in denominasies, terwyl ons tog ook sien dat daar ruimte is vir groei buite denominele verband. (Ons glo dus nie soos sommige dat denominele strukture noodwendig verkeerd of boos is nie.)
  • Ons is nie denomineel nie. Ons stig nie 'n nuwe denominasie waarby ander gemeentes kan aansluit nie. Ons is 'n plaaslike ge­meente wat met ander eenders­den­kende gemeentes binne en buite denominasies wil asso­sieer op verhoudings­basis.
  • Ons is nie inter-denomineel nie. Ons beoog nie om alle leerstellinge en bedieningsfilosofieë van verskillende deno­mi­nasies te akkomodeer en beoefen nie. Ons posisioneer ons dogmaties konser­watief en ten opsigte van bedienings­filosofie liberaal en missionêr.
  • Ons is nie non-denomineel nie. Ons distansieer ons nie van die invloede vanuit ons denominele kerklike erfenis nie. Ons isoleer ons ook nie van die denominele wêreld ten opsigte van ontwik­kelinge en verhoudings nie.
  • Ons is post-denomineel. Ons put uit die ryk erfenis van die kerk in die geheel en poog om effektief kerk van Christus te wees in 'n post-moderne wêreld. Ons raak as 't ware relasioneel vaster aan die kerk in die breë en struktureel losser. Ons poog om innoverend en kreatief te ontwikkel terwyl ons tog probeer om verlore skatte uit ons wortels terug te vind.

Nuus

Artikels

X
Loading